Delmas VLU-tak groet 2023 aan die hand van die pottebakker
“Wat pottebakkery bevredigend maak is dat daar geen reg of verkeerd is nie. Elkeen se persoonlikheid word weerspieël in haar artikel”.
Lede van die Vroue Landbou Unie (VLU) se tak op Delmas het op 21 November hul tak se herorganisasie vergadering gehou.
Dié groep vroue stem saam dat 2023 behoorlik verbygevlieg het en dat dit ’n jaar propvol energie en baie inspirerende en sielsverrykende aktiwiteite was.
Beplanning vir die nuwe jaar is egter belangrik en boonop sou daar weer interessante projekte op hulle wag.
“Na baie voorstelle, redenasies en lang geselse kon ons voorsitter, Marie Terblanche, die jaarprogram saamstel,” het die skakelbeampte, Magriet Swart, laat hoor.
“Ek bedank elkeen vir hul positiewe insette rondom 2024 se propvol program,” het Terblanche gesê.
Die dag was glo so vol beplanning dat die formele afsluiting tot en met 5 Desember moes wag. Op dié dag het die VLU-lede by die Delmas Gholfbaan gekuier en ontbyt geniet.
Terblanche het almal welkom geheet. Spesiale verwelkoming het aan Gawie en Marthie Vermeulen van Witbank asook Mariné Potgieter en haar baba wat saam gekuier het, gegaan.
Elsie Bredenkamp het oudergewoonte die mini-skou artikels beoordeel. Terblanche het hierna ’n gedeelte uit die Bybel voorgelees en so die betekenis van die afgelope jaar se terugblik en ervaringe met dankbaarheid, genade en oorvloedige seëninge in oënskou geneem.
Marthie Vermeulen het die lede rondom pottebakker vaardighede touwys gemaak.
“Ons het met groot ywer weggeval,” het Swart laat hoor.
“Wat pottebakkery bevredigend maak, is dat daar geen reg of verkeerd is nie. Elkeen se persoonlikheid word in haar artikel weerspieël.”
Na sowat ’n uur het daar uiltjies, paddastoele, goiingsakkies versnaperingsbakkies, pampoene en paddastoele uit die klei verrys.”
Volgens Swart is daar nou ’n drie weke wagtyd vir die eindproduk, want Marthie gaan dit glasuur en bakoond toe stuur.
“Dié wag is lank,” het Swart bygevoeg.
Na die laat ontbyt was daar nagereg op die spyskaart. Dié vooraf verpakte nagereg is aangekoop van ’n entrepeneur-inwoner van Eloff wat haar eie besigheid bedryf.
“Op dié wyse ondersteun die gemeenskap mekaar en word entrepeneurskap en werkskepping in ons eie gemeenskap bevorder.”
Hierna het die vroue van Delmas se VLU-tak 2023 gegroet.
“Vele seën en mag elkeen se paadjie mooi uitgelê wees,” het Swart afgesluit.





