Kerktoring op Delmas trek ’n nuwe baadjie aan
“Die uitsig van bo is astronomies,” het ds Izak Du Toit kort nadat die hyskraan hulle weer veilig op moeder aarde besorg het, gesê.
Die Nederduits Gereformeerde Kerk op Delmas, ook bekend as die moedergemeente, se toring moes dringend herstelwerk ondergaan.
Hierdie byna onbegonne taak het in die middel van Desember 2023 afgeskop. ’n Klein of maklike taak was dit nie, want die toring staan ongeveer 30m bo die grond en die projek het haarfyn beplanning behels.
Volgens ds Izak du Toit, predikant van die kerk, is die koste daaraan verbonde astronomies aangesien die werksplek en omstandighede byna onbegaanbaar vir die gewone bouer of werker is.

“Van die grootste kostes sou wees om die materiaal, wat verotte hout en leiklip teëls insluit van bo af na die grond te bring. Die vervangingsmateriaal moes ook weer na bo geneem word. Die veiligheid van die werkers moes verder ook verseker word.”
Volgens Du Toit het Delmas Crane Hire goedgunstelik aangebied om hierdie taak gratis te verrig en het hulle ’n kraan en kraanbestuurder beskikbaar gestel.
Dit kon ook nie hoër of laer nie, Du Toit wou self gaan kyk wat daar bo aangaan. Met Streeknuus se aankoms by die kerk op 13 Desember was Du Toit se eggenoot, Barbara en doktor Martin van Rensburg, predikant van die Hervomde Kerk op Delmas, op die kerkterrein. Van Rensburg en Barbara wou opsluit saam opgaan om die haan op die kerktoring in die oë te gaan kyk.

Die geduldige en professionele personeel van Delmas Crane Hire het dié drie musketiers eers vas geharnas waarna die kraanbestuurder hulle veilig en versigtig tot bo geneem het.
“Die uitsig van bo is astronomies,” het Du Toit kort nadat die hyskraan hulle weer veilig op moeder aarde besorg het, gesê.
Van Rensburg het aan Streeknuus genoem dat Delmas Crane Hire ook by die Hervormde Kerk gehelp het met ’n projek wat nie sonder die hulp van ’n hyskraan gedoen sou kon word nie.
“Die manne is steunpilare in die gemeenskap en ons wil vir hulle dankie sê vir hul positiewe bydrae en omgee.”
Die herstelwerk aan die kertoring het gedurende die eerste week van Januarie tot ’n einde gekom toe die laaste van die oorspronklike leiklipteëls weer op sy eie unieke plekkie geplaas is.
Volgens oorlewering is die hoeksteen van die NG Kerk moedergemeente op Delmas op 28 Augustus 1944 deur ds MJ van Niekerk gelê. Die kerkgebou is deur Gerhard Moerdyk ontwerp en ds JD Potgieter het die inwydingspreek waargeneem.
Geskiedenis vertel die kerkklok in die toring van die kerk het vir die eerste keer op 11 April 1945 gebeier. Vandag, in 2024, beier dit steeds voort en klink die klanke helder vanuit ’n nuwe toring met ’n haan wat trots daarop pryk.
Bronne: Geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Delmas soos saamgestel deur Dr. OV Fourie en 80 Delmas – 1907 tot 1987, geskryf deur AJ Scholtz.








