Local news

ATKV Kosmosrand-tak op Secunda wil twee kinders skool toe stuur

Die ATKV se Kosmosrand-tak het onlangs meubels, kos en klere aan ’n behoeftige gesin op Secunda geskenk en wil graag dié gesin verder ondersteun.

Dié gesin het alles verloor verlede jaar toe die huis waarin hulle gewoon het in Brendan Village gebrand het.

Die pa het uiteindelik ’n vaste werk gekry anderkant Kriel en hy stap daagliks sowat 6km tot by die N17 waar hy ’n saamrygeleentheid werk toe kry.

Die drie kinders wat onderskeidelik, vier, 11 en 16 jaar oud is, het tuisonderrig by hul ma, wat beperkte inligting gehad het, ontvang, maar nie goed gevorder nie en het huidiglik ’n groot agterstand.

Die voorsitter van die ATKV se Kosmosrand-tak, Tracey van Wyk, het gesê sy het hulle laat toets deur die Departement van Onderwys en die twee oudste kinders is sowat drie jaar agter.

“Die departement het gesê hulle sal nie in ’n gewone hoofstroomskool kan aanpas nie omdat die agterstand reeds te groot is en hulle het tuisonderrig aanbeveel,” het Van Wyk gesê.

Sy het verskeie tuisonderrig-sentrums op Secunda besoek en vir die 16-jarige seun, wat met Graad 6 sal moet begin, gaan dit sowat R11 300 kos vir handboeke en R6 700 vir die 11-jarige seun.

Die maandelikse bedrag sal R3 600 vir beide kinders en vervoer vir beide sal R1 000 wees omdat die gesin nie ’n voertuig het nie.

Die man se salaris is net-net genoeg om hul woonstelhuur, kos, water en elektrisiteit te dek.

“Dié twee kinders is so gretig om skool toe te gaan en ek wil so graag probeer om vir hulle ’n regverdige kans in die lewe te gee,” het Van Wyk gesê.

Die tuisonderrig-sentrum waar Van Wyk navraag gedoen het, het dié pryse reeds teen ’n afslagbedrag gegee.

“Ons het op ’n stadium gedink hulle sal na ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, soos Marietjieskool moet gaan, maar hulle is daar ook getoets en die personeel daar het gesê hulle is nie die regte kandidate vir Marietjieskool nie.”

Van Wyk wil ook probeer om die vier-jarige dogtertjie by kleuterskool in te kry, so dat sy gereed kan wees vir skool wanneer sy oud genoeg is.

Sy het die gemeenskap en ondernemings wat ’n verskil in mense se lewens wil maak, gevra om dié projek te ondersteun en haar te skakel as hulle betrokke wil raak of wil help om die kinders se skoolonderrig te betaal.
Vir meer inligting, skakel Van Wyk by 074 103 6381.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button