VF Plus gryp in met slaggate op Standerton
Die party ook self moue opgerol en terselfdertyd die stormwaterafvoerslote, wat vol grond en onkruid was, skoongemaak om verdere skade aan die straat te voorkom.
Die VF Plus het in ’n mediaverklaring van 9 Februarie gesê hulle volgehoue druk op die Lekwa Munisipaliteit om slaggate te herstel, het vrugte afgewerp.
Volgens Wilma Venter, wyksraadslid, het die party het sedert November verlede jaar vele klagtes van die gemeenskap aangaande slaggate in Mbonani Mayiselastraat op Standerton gekry.
“Hierdie straat is tans bykans onbegaanbaar en word deur verskeie noodvoertuie as hoofroete gebruik,” het Venter gesê.
Die VF Plus het gaan ondersoek instel en daarna tydens weeklikse vergaderings met die munisipale bestuur, die lede voor stok gekry.
Volgens die verklaring, het die party ook self moue opgerol en terselfdertyd die stormwaterafvoerslote, wat vol grond en onkruid was, skoongemaak om verdere skade aan die straat te voorkom.
Die munisipaliteit het uiteindelik toegestem dit is noodsaaklik om die slaggate te herstel en die herstelwerk het op 8 Februarie begin.
“Die VF Plus duld nie die vermorsing van belastinggeld nie en sal sy waghondrol aanhou vervul soos in hierdie geval,” het Venter afgesluit.




