Digter van Secunda se droom word ’n werklikheid
Skrywer werk reeds aan tweede boek, dié keer ’n kinderboek.
Christel Brooks (31) se droom om eendag ’n digbundel uit te gee, het vanjaar ’n werklikheid geword. Die Ridge Times het in Oktober 2019 oor Christel geskryf nadat sy op 25 April 2019 in ’n groot motorongeluk op Secunda betrokke was.
Sy het destyds twee werwels in haar nek gebreek. Die dokters wou destyds opereer, maar Christel het gehoor dat die kanse dan baie goed sou wees dat sy na die operasie ’n kwadrupleeg sou wees.
Sy en haar familie en vriende het destyds op die Woord gestaan en gesê hulle gaan net goeie nuus kry. Die volgende dag het die dokter wat haar sou opereer, weer X-strale laat neem en hy kon nie die verskil glo nie.
Die dokter het gesê sy het nie meer die operasie nodig nie. Toe sy in Mei dieselfde jaar teruggegaan het na dié dokter vir ’n opvolg-ondersoek, het hy gesê sy het nie meer ’n fraktuur in haar nek nie.
Christel is in November verlede jaar met Chris Brooks getroud en het onlangs na Johannesburg verhuis. Sy het ook aan haar digbundel, Koningsprotea, gewerk en dié digbundel is op 27 Februarie by Die Boekspens op Secunda bekend gestel.
Christel het die kans gekry om dié digbundel te publiseer toe sy in 2022 aan ’n kompetisie van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), deelgeneem het.
Sy is op 28 Januarie verlede jaar tydens ’n glansgeleentheid as een van die agt wenners van ’n boekprys aangewys, wat haar in staat gestel het om die digbundel te skryf.
“Ek het die bundel toe binne sewe maande klaar geskryf,” het sy vertel.
Die naam van haar digbundel was ’n uitgemaakte saak omdat sy nog altyd van proteas gehou het en sy voel die proteablom dra met trots hul fluweelrooi krone.
Hoewel sy al vandat sy op hoërskool is gedigte skryf, bevat Koningsprotea, die gedig, Koningsprotea en ’n honderd ander gedigte.
Haar hoop met die digbundel is dat dit vir mense hoop sal gee wanneer hulle dit lees. Die protea was nog altyd vir haar ’n blom van hoop en ’n blom om te bewonder.
“Die protea brand in ’n vuur en begin dan onmiddelik weer bot. Ek glo mense gaan ook deur seisoene van vuur en moeilike omstandighede en ek wil hulle hoop gee om dan daarna weer op te staan, aan te gaan en om weer te blom.”
Christel het reeds in Januarie vanjaar aan haar tweede boek begin werk. Dié keer wil sy fokus op ’n kinderboek en ’n boek waar kinders en volwassenes ’n nuwe taal kan aanleer soos Zoeloe.
“Drome is harde werk, ’n mens gaan nie net eendag wakker word en dan is jou drome bewaarheid nie, ’n mens moet werk daaraan.”
Sy het sedert sy haar matriekjaar voltooi het, vir al wat ’n skryfkompetisie is, ingeskryf en baie kortverhale, gedigte en dagboek stukkies geskryf.
Sy het ook al verskeie skryfkursusse gedoen en van haar skryfwerk is al deur die ATKV Skryfskool van die Universteit van Noord-Wes, Carpe Diem Media, Ashton & Montagu Tourism, Pilanesberg Wildife Trust, LitNet, die GHA, Stemme uit die Suiderland en Groep 7 Uitgewers gepubliseer.
Voordat sy sukses bereik het, is baie van haar skryfstukke en manuskripte ingestuur en nie goedgekeur nie.
“’n Mens wen baie deur volharding.”
Een van die stukke in die Bybel wat vir haar uitstaan wat sy ook by die vrystelling van haar boek gedeel het, is Romeine 5:3-5 wat lui: ‘Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop, en dié hoop beskaam nie.’
Christel se digbundel is by haar teen R280 beskikbaar. Om te bestel, skakel haar by 071 251 8684.



