Local newsStreeknuus

Koolstof op R50-ompad versuur Delmas-inwoners se lewens

Dié pad, ook bekend as ’n steenkoolroete dra verkeer vanuit verskeie rigtings, maar is ook bekend vir swaarvoertuie wat steenkoolvragte vanaf myne in Mpumalanga dra.

Die R50-pad veroorsaak al vir etlike jare kopsere aan padgebruikers in en om Delmas. Dié pad, ook bekend as ’n steenkoolroete dra verkeer vanuit verskeie rigtings, maar is ook bekend vir swaarvoertuie wat steenkoolvragte vanaf myne in Mpumalanga dra.

Slaggate het verbruikers vir etlike jare geteister en uiteindelik was daar rondom 2019 begin om gedeeltes van die pad te herstel.

Kontrakteurs het egter gekom en gegaan. Teen 2023 het die werk weer begin en fluks gevorder. Gedeeltes is tans reeds klaar en kan padgebruikers weer die luuksheid van ’n nuut geteerde pad geniet.

Die gedeelte van die pad wat direk aan uitbreiding twee- en vier van Delmas-dorp grens, vorm deel van dié herstelwerk en oorbou van die pad.


Alles is vol swart steenkoolstof.

Inwoners het gewoond geraak aan die geraas van masjinerie, stof en ongemak.

Gedurende Desember 2023 moes daar egter ’n ompad gemaak word sodat die werk aan die R50, aangrensend aan die twee uitbreidings, voltooi kan word.

“Skielik was dit nie meer net gewone stof nie, maar steenkoolstof wat die lug gevul het,” het die eienaar van ’n huis wat direk aan die R50 grens, Streeknuus meegedeel.

“Die daaglikse stofwalms is onuithoudbaar. Ons kan geen venster of deur oophou nie en ons huis is permanent vuil. Alles, binne en buite, is met ’n laag swart stof bedek.”

Streeknuus het by ’n mynkenner, self woonagtig in uitbreiding vier, gaan aanklop oor die impak van die steenkoolstof op die inwoners se lewens sowel as die omgewing.


DieR50-ompad tussen uitbreiding 2 en 4.

Kierie Krügel is die eienaar van ’n myn in die Bronkhorstspruit-omgewing, en is verder ook ’n professionele myningenieur met sowat 50 jaar ondervinding in die mynbedryf.

Volgens Krügel is daar van steenkoolstofhoudende materiaal gebruik gemaak om die ompad mee te bedek.

“Dit is onaanvaarbaar en ontoelaatbaar,” het Krügel gesê.

Volgens Krügel is die material ’n afvalstof, komende van ’n oopgroefmyn en mag dit onder geen omstandighede van ’n mynperseel verwyder word nie.

Hy het voorts verduidelik dat die proses om ’n mynlisensie te bekom ’n lywige een is.

“Dit sluit onder andere in ’n omgewingsimpakstudie, ’n omgewingsbestuurprogram, waterlisensie, gesprekke met jou gemeenskap rondom die beplande mynaktiwiteite en vele meer.”

Een bepaling is dat die steenkoolhoudende afvalstof nié van ’n mynperseel verwyder mag word nie.

“Dit moet binne die vooraf afgebakende en goedgekeurde myngebied volgens die mynbouplan bly. Verdere bepalings van so ’n mynlisensie is die rehabilitasie van die myn wanneer mynbedrywighede gestaak word.”

Volgens Krügel is die afval wat gebruik is om die ompad te vul, onwettig.

“Dit is intussen deur voertuie tot ’n baie fyn poeierstof verander. Die wind waai en dit veroorsaak lugbesoedeling, ondergrondse waterbronne word besmet en so meer.”

Krügel het op 6 Desember reeds ’n e-pos aan die Groen Skerpioene gerig waarin hy die impak van die steenkoolhoudende afvalstof waarmee die ompad gevul is, verduidelik het.


LEES OOK: Court case against former worker at school continues in Evander


Dit bevat inligting rondom die impak op die onmiddelikke omgewing, en die gevare wat die stof vir ondegrondse waterbronne en meer inhou.

Krügel vermoed ’n myn in die onmiddellike omgewing is moontlik verskaffer van die onwettige afvalproduk. Hy het die Groen Skerpioene gevra om verder ondersoek in te stel.

Volgens Krügel het hy egter nie terugvoer hieroor ontvang nie en weens vrese vir intimidasie het hy kommunikasie en verdere ondersoek gestaak.

Nóg ’n bron wat annoniem wil bly, het Streeknuus vertroulik meegedeel dat die steenkoolstof waarskynlik van die nabygeleë oopgroefmyn afkomstig is en dat die eienaar van dié myn boonop persoonlike en familiebande met die kontrakteurs van die R50 het.


Die ingang vanaf die R50-pad na uitbreiding 4 op Delmas.

Streeknuus kon die bewering egter nie teen druktyd bevestig nie. Intussen ‘versuur’ die stof die inwoners van Delmas se lewens op ’n daaglikse basis.

“Die stof syfer deur toe deure en vensters, bedek plante, motoropritte en voertuie wat onder ons afdak staan,” het nog ’n inwoner van uitbreiding twee gekla.

“Selfs die skoonmaak van my swembad het ek net gelos. Dit help nie. Die swembad lê met ’n dik laag swart stof bedek.”

Hierdie is ’n opvolgstorie. Lees gerus meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus.


Die impak van die steelkoolstof is duidelik sigbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button