CrimeLocal newsStreeknuus

Nog twee motoriste word die slagoffers van rowers op die N12

Beide lugsakke het in die proses oopgegaan en weens die skade aan haar voertuig was sy genoodsaak om te stop.

Motoriste se lewens blyk steeds in gevaar te wees op die N12 in die Delmas omgewing.

Streeknuus het op verskeie vorige geleenthede omtrent die pak van klippe op die padoppervlak berig en hoe padverbruikers daardeur benadeel word. (Streeknuus, 5 April. )

Die mees onlangse voorvalle het op 13 en 14 April gebeur.

’n Man en sy passasier wat op die N12, in die rigting van Witbank op reis was, het omstreeks 00:40 op 13 April voorwerpe in die omgewing van die Bapsfontein-afrit raakgery. Hy het gestop om ondersoek na die skade op sy voertuig in te stel.

Die volgende oomblik het drie mans vanuit die niet verskyn en glo drie skote op sy voertuig gevuur.


LEES OOK: Accused in teen’s murder appears in Cullinan Magistrate’s Court


Die bestuurder en sy passasier is van hul selfone en ander waardevolle items beroof. Sake van poging tot moord en roof is by die Delmas polisie geopen.

Tydens ’n soortgelyke voorval wat op 14 April omstreeks middernag plaasgevind het, was ’n vrou die slagoffer van rowers op die N12.

Volgens die vrou was sy vanaf haar werk by ’n myn op pad huis toe, toe sy tussen die R42- en R5 afritte vreemde voorwerpe in die pad opgemerk het.

Sy het probeer uitswaai, maar volgens haar was daar te veel klippe. Haar motor het die klippe getref en het sy beheer oor haar voertuig verloor.

Beide lugsakke het in die proses oopgegaan en weens die skade aan haar motor was sy genoodsaak om te stop.


LEES OOK: Delmas Dragons en Sasol Secunda ringbalklubs oorkom saam-saam uitdaging


Die vrou het dadelik haar man geskakel.

Hy het vir haar gesê om uit die motor te klim, want sy sou na alle waarskynlikheid beroof word. Volgens inligting het die vrou glo skielik gehoor hoedat ’n vuurwapen agter haar oorgehaal word.

’n Man het haar gevra met wie sy op die foon gesels. Daar het nog twee mans uit die bloute op die toneel verskyn; al drie was geklee in swart en het swart gesigsmaskers gedra.

Die mans het haar na ’n nabygeleë mielieland geneem en glo ook gesê dat hulle nie beplan om haar te verkrag nie. Hulle het egter op geld en haar selfoon aangedring.

Die slagoffer se voertuig was ook deursoek vir ander waardevolle items. Die drie rowers het glo verder vir die slagoffer gesê om hulp te kry.

Hulle het die toneel te voet verlaat. ’n Saak is by die Delmas polisie geopen.

Related Articles

 
Back to top button