Standerton Landbou Skou is hier
Vrydagaand is dié aand vir dans en kuier. Leah se vertoning begin om 18:00 gevolg deur Dozi om 19:00. Juan Boucher gaan die vermaakpot goed aanmaak om 20:00.
Die Standerton Landbou Skou vind vanaf 12 tot 14 September plaas en beloof om vermaak vir oud en jonk te verskaf.
Dit skop af met die jaarlikse bejaarde funksie om 10:00 by die Over the Moon Restaurant op 12 September.
Dié is die geleentheid waar bejaardes bederf word met ’n oggend van vermaak en versnapperinge. Belangstellendes moet so gou moontlik plek bespreek. Die amptelike opening is Donderdag, maar die groot gebeure begin vanaf die Vrydag plaas.
Die hekke maak op Vrydag en Saterdag reeds om 08:00 oop en gaan die vee- en perdekompetisies van vroeg af aan die gang wees. Kyk uit vir ’n noodoefening van die nooddienste op Vrydagmiddag.
Daardie aand gaan bekende Afrikaanse kunstenaars die verhoog aan die brand sing. Skougangers moet hul eie kampstoele saamneem.

Leah se vertoning begin om 18:00 gevolg deur Dozi om 19:00. Juan Boucher gaan die vermaakpot goed aanmaak om 20:00.
Maak seker jy het jou dansskoene aan want daarna gaan daar makietie gehou word met plaaslike plattejoggies.
Die vermaak gaan voortgesit word op Saterdag met allerlei stalletjies, ’n biertuin, kindervermaak, kosstalletjies en vele meer, ’n Groter noodoefening met verskeie nooddienste en selfs ’n lugambulans kan verwag word.
’n Wedywering vir die beste potjiekos vind ook die Saterdag plaas. Spanne kan uit vier persone bestaan en inskrywingsgeld vir die potjiekoskompetisie is R1 000.
Die spanne gaan beoordeel word vir gees (R500 koopbewys), spandrag (R500 koopbewys) en die mooiste stalletjie (R1 000 koopbewys). Die eerste prys vir die wenners van die potjiekoskompetisie is twee heel skape, die tweede prys is een skaap en die derde prys ’n halwe skaap.
Toegangsgeld is R50 vir Donderdag, R150 vir Vrydag en R50 vir Saterdag. Pensionarisse en leerders betaal minder. Kaartjies vir die skou kan by die ingang gekoop word, of vir meer inligting, skakel 079 820 5420.




