Local news

Dr. Armand de Clerq gee sy mening op dag 10 van veldtog

Styg uit bo jou omstandighede en weet jy is waardig en die moeite werd.

Dr. Armand de Clercq praktiseer al sedert 2017 en het in 2021 homself op Secunda, sy grootword-dorp, kom vestig.

As ’n algemene dokter, sien hy baie gevalle van geweld en met die oog op die bewusmakinsveldtog, ‘16 Days of Activism against Gender-Based Violence’, het die Ridge Times, as deel van ’n gesamentlike projek met Famsa, met dr. De Clercq gesels.

Hy reken op Secunda is die gevalle van misdaad bo-gemiddeld.

“Ons sien baie gevalle van fisiese geweld tot finansiële uitbuiting, dit is ook ’n vorm van geweld,” het Dr. De Clercq gesê.

Hy skryf die hoë hoeveelheid gevalle van misdaad en geweld toe aan hoë stresvlakke, mense wat swaarkry en frustrasies weens omstandighede.

Op die vraag of Dr. De Clercq al self ’n vorm van geweld beleef het, het hy gesê nie eerstehands nie, maar hy meen almal in die samelewing het al indirek met geweld te doen gekry.

“Ons sien dit gereeld rondom ons, so al is ons nie primêr ’n slagoffer van misdaad of geweld nie, sien ons dit sekondêr in ons samelewing.”

Op die vraag oor hoe ’n mens pro-aktief kan optree om geslagsgeweld asook ander vorme van geweld kan keer, het dr. De Clercq gesê hy glo nie mense word gebore om geweldadig te wees nie.

“Dit is aangeleerde gedrag wat kinders sien van kleins af.

“Ek skryf dit toe aan slegte ouerskap of ’n slegte pa-figuur.

“Ons moet meet tyd belê in ons kinders,” het dié pa van ’n tweeling gesê.

Hy meen as die gemeenskap voorkomend begin optree, sal dit die sirkel breek.

Dr. De Clercq reken om die statistiek, dat een uit elke drie vroue minstens een keer in hul leeftyd deur geslagsgeweld geraak gaan word, te verander, moet mense se benadering tot dié onderwerp, verander.

“Daar is ’n groot stigma rondom dit, vroue voel skaam en dink dit is hulle skuld dat hulle in ’n situasie van mishandeling is.

“Hulle dink hulle het die man gekies en moet maar by hom bly en dan sukkel hulle om vry te kom.

“Ons moet ons hele benadering rondom dit verander, dat om te praat daaroor, die norm sal wees en nie die uitsondering op die reël nie.”

Hy moedig vroue wat hulself in ’n situasie van mishandeling bevind, aan om hulp te soek.

“Daar is altyd iemand wat bereid is om ’n helpende hand uit te steek.”

Sy boodskap van hoop vir en raad aan vroue wat deur misdaad en geweld geraak word, is om aan te hou om te probeer om hul lig te vind in die lewe.

“Weet wie jy is en omhels dit.

“Weet en besef dat jy die moeite werd is en waardig is om ook ’n goeie lewe te hê en styg uit bo jou omstandighede.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button