Prokureur op Secunda deel sy hart oor geslagsgeweld
Kry hulp as jy in ’n situasie van gesinsgeweld is.
Die Ridge Times gesels vandag, op dag 12 van die 16 Days of Activism for No Violence Against Women and Children campaign met ‘n Secunda prokureur, Gawie Steyn.
Dit vorm deel van ’n bewusmakingsprojek wat die Ridge Times saam met Famsa aanpak.
Steyn was in die 90s staatsaaklaer en praktiseer as prokureur sedert April 2000.
Hy meen geweld is prominent in die Secunda gemeenskap.
“Geweld het verskillende vorms. Buiten die fisiese aspek van geweld, is dit ook emosioneel waar kinders dalk indirek slagoffers is,” het Steyn gesê.
Hy glo geweld het ’n leefstyl geword en jongmense dink hulle kan alles met hul vuiste regmaak.
Volgens Steyn is dit nie net vroue wat deur gesinsgeweld geraak word nie. Hy kry al hoe meer aansoeke van mans wat geweld tuis ondervind.
“Afknouery en emosionele afkraking is ook vorme van geweld.”
Steyn se personeel by sy kantoor was ook al slagoffeers van geweld toe daar in 2022 twee gewapende mans by die kantoor ingestap het en die twee ontvangsdames se ringe, selfone, beursies en van die rekenaars by die kantoor gesteel het.
Steyn was nie dié dag op kantoor nie, maar dit was baie traumaties vir sy personeel en hy het vir hulle beradingsessies gereël.
Daar is na dié voorval ook twee keer by sy kantoor ingebreek.
Sedertdien het hy die sekuriteitsmaatreëls by sy kantoor opgeskerp en het gesê ongelukkig moet hulle in ’n tronk werk om veilig te wees.
Steyn reken in ’n idilliese wêreld is die slagspreuk: ‘Prevent it before it happens’, ideaal, maar hy weet nie of dit in die werklike lewe moontlik is nie.
“Die enigste manier om gesinsgeweld te bekamp, is deur opvoeding. Dit begin by die huis. Wat is die kind wat in ’n huis grootword se verwysingsraamwerk as hy sien pa slaan vir ma? Ons het ’n kultuurverandering nodig.”
Steyn het vertel hy het al gevalle van gesinne in sy kantoor gehad waar hy nie seker is wie slaan vir wie nie, want dit klink of almal in die huishouding mekaar slaan.
“As jy kwaad word, het jy reeds die argument verloor.”
Hy meen die statistiek dat een uit elke drie vroue een keer in hul leeftyd geweld ondervind, konserwatief geskat is.
Hy noem dat finansiële afknouery ook ’n vorm van geweld is.
Steyn reken die oplossing vir geweld is dat verandering moet plaasvind.
“As ons nie verander nie, gaan die statistiek aanhou styg en dit word dan die norm van die samelewing van vandag.”
Hy glo ook daar is meer geleenthede beskikbaar vir mense om geweld te sien op sosiale media.
“Jy druk net ’n knoppie dan kan jy op jou selfoon- of rekenaarskerm sien hoe Rusland en Oekraïne oorlog maak.”
“Mense raak naderhand afgestomp omdat dit so maklik is vandag om orals geweld te sien.”
Steyn se boodskap van hoop aan oorwinnaars van geweld is om nooit hoop te verloor nie.
“As jy hoop verloor, het jy in ’n groot mate ook die kans om beter te word, verloor.
“Moenie in ’n toksiese omgewing bly ter wille van die kinders nie; die kinders sien die geweld wat in die huis aangaan en kry ook swaar.
“Moenie sê eendag as die kinders groot is, sal jy beter besluite neem nie, want jou lewe gaan by jou verby.
“Moenie jouself isoleer en alleen wees nie, kry hulp en ondersteuning van vriende en familie.”



