Local news

Amanda deel haar storie op dag 16 van veldtog

Vrou glo mense moet meer begin bid.

Sakevrou Amanda Haywood glo sy is op ’n spesifieke plek geplaas om God se Woord uit te dra en dat God’s Gifts op Trichardt, God se besigheid is wat sy net bestuur.

Sy deel haar storie met die Ridge Times en Famsa op dag 16, die laaste dag van die 16 Dae van Aktivisme teen geslagsgeweld.

Enige iets van gebedkussings, gebedsdoeke, serpe met Skrif op, olies, gesigsrome, Christelike boeke, beskuit, koekies, eiers, heuning en sjokolades met spesiale boodskappe op, is by God’s Gifts, wat in Augustus hul derde bestaansjaar gevier het, te koop.

“Dit is ’n plek van bediening dié,” het Haywood oor haar winkel gesê.

Twee liedjies wat haar na aan die hart lê en dadelik tot haar gees gespreek het toe sy dit die eerste keer gehoor het, is You’re still God van Philippa Hanna en My Life is not my Own van Gillaume en René Louw.

“Dit is daar en eskaleer elke jaar,” het Haywood geantwoord op die vraag oor hoe geweldadig sy dink ons gemeenskap is.

“Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel, mense se morele waardes verval en werkloosheid dwing mense om goed te doen wat hulle dalk andersins nie sou doen nie.”

Haywood glo ook die manier hoe volwassenes hulself handhaaf en gedra speel ’n groot rol.

“Die dogtertjie kyk hoe mamma aantrek, hoe sy met ander mense praat en kinders hoor ook die negatiewe woorde wat oor hulle gespreek word deur hulle ouers.
“Ek kan op my een hand tel hoe min gesinne daar is wat ek kan sê ek kan sien hoe die Here werk in daardie gesin en waar hulle mekaar nog met respek en deernis behandel en mooi met mekaar praat.”

Haywood is self ’n oorwinnaar van verkragting en moes ’n lang pad van vergifnis stap nadat sy as drie-jarige dogtertjie vir die eerste keer verkrag is.

Sy is daarna totdat sy nege jaar oud is, gereeld deur meer as een persoon verkrag en gemolesteer.

“Mense besef nie altyd wat is bevryding en dat daar verskeie demone is wat met bindings in die geesteswêreld gepaardgaan met verkragting nie,” het Haywood gesê.

“Dit het vir seker ’n impak gehad op my lewe en verhoudings daarna as volwasse vrou. Dit laat mens vuil en minderwaardig voel en die duiwel gebruik dit om ’n vashouplek op ’n mens se lewe te kry.”

Haywood het jare later as volwassene by ’n vrouekamp tot bekering gekom en sy het gesê as dit nie vir die Here was nie, weet sy nie waar sy vandag in haar lewe sou wees nie.

Sy glo om geweld te voorkom voordat dit gebeur, moet daar opgeleide mense by skole betrokke wees wat kan help met gevalle van huishoudelike geweld.

“Maatskaplike werkers moet ook die regte hulpbronne en emosionele ondersteuning kry. Ons moet bid dat die Here die regte mense in die organisasies wat sulke sake hanteer, sal instuur.
God is ons vertrekpunt.”

Op die vraag oor wat Haywood dink moet verander om die statistiek dat een uit elke drie vroue een keer in hul lewe geweld ondervind te verander, meen sy dat mense moet begin praat.

“Die mense moet die Here aanroep en deel maak van hul planne, dan sal die stelsels nie platval nie.

“Ons is ongelukkig nie altyd ’n nasie wat die Here aanroep nie.

“Ek glo ook dit is geeswerkings, as meer mense vir bevryding gaan, sal driekwart van dié probleme nie meer bestaan nie.”

Haywood glo ook mense se gesindheid teenoor die polisie en ander organisasies sal verander as hulle by die polisiestasie instap en weet hulle gaan die regte hulp kry.

“Daar is soms geen gevolge vir die oortreder nie. Die hof stel die sake hoeveel keer uit en dit is ’n mors van geld, tyd, hulpbronne en mannekrag.

“Ons as gelowiges moet uit ’n plek van outoriteit begin bid en opstaan vir dit waarin ons glo.”

Haywood se boodskap van hoop en raad aan oorwinnaars van geweld is om op te staan en bo hul omstandighede uit te styg.

“Daar is lewe na verkragting, geweld of mishandeling.

“Moenie toelaat dat die vyand van jou steel nie en moenie dat die duiwel vir jou lieg en vir jou sê jy is niks werd nie.

“Jy is waardig en jy het ’n doel in God se oë.

“Kry hulp by die regte mense en kyk vorentoe.”

Sy het die slagspreuk: ‘God never allows pain without a purpose,’ uitgelig en gesê dit bemoedig haar gewoonlik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button