Hoogie slaag matriek na traumatiese ondervinding
Hy het brandwonde aan sy gesig, arms, bene en voete opgedoen.
Gideon Kotze (18) het verlede jaar, te midde van moeilike omstandighede, sy matriek-eindeksamen by Hoërskool Hoogenhout afgelê.
Kotze het op 25 Oktober op hul plaas buite Bethal gesien daar het ’n klein brand uitgebreek in die veld en met sy bakkie emmers water aangery om te gaan help om die brand te blus.
Kotze en sy ouma was alleen by die huis toe dit gebeur het.
Sy ouers was in Durban vir besigheid en sy suster, Sanet Henn, het gewerk.
Terwyl Kotze met sy bakkie oppad was na waar die brand was, het die vuur gedraai en in die rigting van sy bakkie begin beweeg.

Sy bakkie het gestol en hy kon dit nie weer aangeskakel kry nie.
“Ek het geen ander keuse gehad as om deur die vlamme te hardloop nie, want die bakkie het aan die brand geslaan,” het Kotze vertel.
“Ek het in die huis gegaan en my lyf met koue water afgespoel.”
Sy suster het dadelik vanaf haar werksplek plaas toe gery toe sy gehoor het daar was ’n brand.
Teen dié tyd het die vuur weggedraai van hul huis af en weer in ’n ander rigting begin beweeg.
Kotze se ouers se werkskollegas het hom na hul huisdokter op Bethal geneem omdat hy op dié stadium nog nie so erg gelyk het nie en nie gedink dit is nodig om hospitaal toe te gaan nie.

Hy het eerste- en tweedegraadse brandwonde aan sy gesig, arms, bene en voete opgedoen. Sy ouma, ma en suster het hom tuis behandel.
Sy brandwonde is nog nie heeltemal genees nie.
Sy vel op sy bene is baie dun en rooi en pienk en hy kry nog steekpyne as hy lank staan.
Sy ouers kon eers twee dae na die voorval huis toe gaan en hulle is dankbaar dat hy nie erger seergekry het nie.
Kotze was getraumatiseerd na die voorval en hartseer dat die bakkie uitgebrand het, maar hy herstel nou goed fisies en emosioneel.
Hy het toelating gekry om ’n BA-graad te studeer en wil vanjaar deeltyds meganiese ingenieurswese studeer terwyl hy voltyds werk.
Hy het onlangs na Middelburg verhuis waar hy tans werk soek.



