Lede van die AfriForum-tak op Bethal sit nie stil nie en hou steeds die gebied rondom die N17-snelweg naby Bethal netjies deur die gras te sny en daar skoon te maak.
Soos wat AfriForum skenkings inkry, herstel hulle ook gereeld slaggate op Bethal.
Hennie Bekker, AfriForum Hoëveld distrikskoördineerder verstaan nie hoekom Govan Mbeki Munisipaliteit nie hul werkers kan stuur om skoon te maak nie.
“Ek verstaan daar is nie geld vir brandstof om gras te sny nie, maar die werkers kry salarisse. Hoekom kan hulle nie kom skoonmaak nie?” het Bekker gevra.
Al die slaggate en slegte paaie op Bethal is nòg ’n kopseer vir inwoners.
“Die munisipaliteit seël nie die krake op die paaie nie; dan trek daar vog in en veroorsaak dat die paaie vinniger verbrokkel,” het Bekker gesê.
Volgens hom wag AfriForum totdat dit minder reën om weer te begin slaggate op Bethal se paaie te herstel.
Hy het inwoners aangemoedig om ook handjie by te sit deur voor hul huise slaggate te herstel en dit netjies te maak.
Dit kos AfriForum tussen R120 en R150 om 1m² slaggat te herstel.
“As elke huiseienaar sowat R2 000 jaarliks bestee, dan kan die inwoners self die paaie in stand hou,” het Bekker gesê.
Bekker is bly dat die munisipaliteit wel iets aan die vullisterrein buite Bethal begin doen het.
“Hoewel hulle nie ’n oudit sal slaag nie, kan ek ’n verbetering sien. Hulle het nou masjienerie en het ‘n bietjie langs die paaie naby die vullisterrein skoon gemaak.”












