Local newsStreeknuus

Laaste poskantoor in Delmas-omgewing word sluit

“By die poskantoor op Sundra aangekom was ek met die afwesigheid van enige personeel begroet.”

Waar personeel voorheen die publiek met hul poskantoor-behoeftes bygestaan het, is nou net ’n verslete kennisgewing wat die publiek inlig dat die poskantoor op Sundra tydelik gesluit is.

Volgens dié kennisgewing was die laaste dag van diens op 23 Desember.

Dié satelliet-poskantoor, geleë in ’n supermark op Sundra, was die laaste van die poskantore in en om Delmas.

Die hoof poskantoor op Delmas het reeds in Mei 2019 sy deure gesluit ná die huur na bewering agterstallig geraak het.

Poskantoorkliënte het van toe af geen keuse gehad as om vir dienste en Sassa-pensioenuitbetalings na Sundra te ry nie.

Die sluiting van die poskantoor op Sundra het onder Streeknuus se aandag gekom nadat ’n kliënt ’n kennisgewing vir die afhaal van ’n pakkie op 21 Januarie ontvang het. Die strokie was gedateer 13 November 2024.

“Ek het vir baie lank gewag vir ’n onderdeel wat ek vanaf die Verenigde Koningkryk bestel het en het dus aangeneem dat dit dié pakkie by die poskantoor sou wees wat uiteindelik opgedaag het.”

’n Verlate toonbank by die poskantoor op Sundra.

“By die poskantoor op Sundra aangekom, was ek met die afwesigheid van enige personeel begroet.”
Volgens die kliënt, was hy by navrae meegedeel die poskantoor het Desember verlede jaar gesluit en het nooit weer oopgemaak nie.

“Die pakkie se kennisgewingstrokie het gelees dat ek die pakkie in Sundra moes optel. Ek het toe die poskantoor in Secunda geskakel en was meegedeel dat Delmas, Sundra en die hele omgewing nou onder Springs in Gauteng sorteer.

“Weer het ek gery, net om in Springs by die poskantoor meegedeel te word dat die pakkie reeds op 23 Desember na Witbank teruggestuur is, waarna dit na Johannesburg gestuur is en daarna skynbaar terug na die VK toe.”

“Iets wat ek dringend nodig het, lank voor gewag het en reed voor betaal het, was dus nou buite my bereik.”
Streeknuus het verder vetroulik verneem dat daar, in die maande voordat die Sundra Poskantoor gesluit het, nie meer enige dienste was nie.

Daar was glo nie papier om op te druk nie en ook geen ink vir die drukkers nie.

’n Kennisgewing by die Sundra satelliet-poskantoor.

Sassa-pensioentrekkers is ook per ’n kennisgewing meegedeel dat geen pensioen meer daar sal uitbetaal word nie.

Vir Eloff- en Sundra-inwoners beteken dit dat hulle na Delmas moet gaan om daar by van die kettingwinkels hul pensioengeld te kry.

Nog ’n betoubare bron het Streeknuus ingelig dat die Sundra Poskantoor na bewering weens bedrog gesluit is.
Streeknuus het skriftelike navraag aan die mediawoordvoerder van die poskantoor, Suzie Khumalo, gerig.

Volgens Khumalo het sy Streeknuus se navraag na die poskantoor se besigheidsreddingpraktisyn verwys.

Teen druktyd was daar egter nog geen terugvoer oor die sluit van Sundra se poskantoor nie en kon geen duidelikheid verkry word of dit wel weer sou open nie.

Intussen moet inwoners van die Delmas-, Sundra- en Eloff-omgewing maar daarmee gedweë wees om die pad Springs toe te vat vir enige poskantoordienste.

’n Verslete kennisgewing wat poskantoorkliënte inlig dat die satelliet-poskantoor vanaf 23 Desember gesluit sal wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button