Local news

Berader en digter wil ‘n dwelm-ondersteuningsgroep op Secunda begin

Belangstellendes is welkom om groep op Dinsdagaande om 19:00 by te woon.

Digter en berader, Danie Viljoen, beter bekend onder sy digtersnaam, Von Villon, wil ’n ondersteuningsgroep vir dwelm- en alkoholverslaafdes op Secunda stig.

Viljoen glo die dwelmprobleem op Secunda is so groot omdat Secunda die perfekte plek vir dwelmhandelaars is.

“Dit is naby genoeg aan die stad en hier is mense met baie geld wat dwelms kan koop,” het Viljoen gesê.

Enige iemand wat sukkel met dwelm- of alkoholverslawing kan die groep bywoon op Dinsdae om 19:00 in die klipkerk by die Kruik Kerk.

As iemand wat self ’n dwelmverslaafde was, ken Viljoen die uitdagings van verslawing en ook die pad na genesing.

“Die geliefdes en families van dwelmverslaafdes loop ook ’n moeilike pad en hulle het ook ondersteuning nodig.”
Viljoen is ook ’n lewensafrigter en bied gereeld sessies aan.

Hy is ook betrokke by House of Mercy vir bejaardes of mense in verswakte sorg en bied op Sondae vir hulle kerkdienste aan.

Viljoen is ook betrokke by Biolink wat kinders help wat leerprobleme het of aan aandaggebrek hiperaktiwiteit sindroom, beter bekend as ADHD, ly.

Hy het al verskeie digbundels onder sy gordel en is ook al as een van die top 10 digters in Suid-Afrika in die INK dig- en skryfkompetisie aangewys.

Deesdae spits hy hom daarop toe om sy teologie graad te voltooi en bied beradingsessies aan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button