Secunda VLU begin die jaar met omgee handsak-projek
Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 5 Februarie by te woon.
Die plaaslike VLU het die jaar op 15 Januarie met hul eerste vergadering afgeskop.
Rosa Black, voorsitter, het die lede van die VLU se nuutste projek vertel. Met dié projek, die ‘omgee handsak’ projek, wil die VLU handsakke wat vroue nie meer gebruik nie, bymekaarmaak en toiletware asook ander benodighede insit vir vroue wat slagoffers is van verkragting en mishandeling.
Black het ook sertifikate uitgedeel aan die lede van die VLU Secunda-tak wat verlede jaar presteer het.
Black het algeheel eerste geëindig. Sy het ook eerste geëindig in die afdelings vir naaldwerk, handvlyt, gebottel/gebak, eie keuse en konferensie/kongres. Black het altesaam 2 787 punte behaal.
Marlene Cockcroft het algeheel tweede geëindig en ook tweede in die afdelings naaldwerk, handvlyt, eie keuse en konferensie/kongres geëindig. Sy het altesaam 765 punte behaal.
Magda Schwab het algeheel derde geëindig en ook derde in die afdelings vir naaldwerk, eie keuse en konferensie/kongres geëindig en tweede in die gebottel/gebak-afdeling. Sy het altesaam 659 punte behaal.

Die ander lede wat goed gevaar het en sertifikate ontvang het is Heloise McLaren wat tweede in die handvlyt-afdeling geëindig het en derde in die gebottel/gebak-afdeling en deelgeneem het in die naaldwerkafdeling; Anèl Pretorius wat derde in die handvlyt-afdeling geëindig het; en Karin Harrison wat deelgeneem het in die handvlyt-, gebottel/gebak- en die konferensie/kongres-afdeling.
Die Secunda VLU-tak het ook verlede jaar met hul afsluiting ’n nuwe bestuur gekies waar Black weer as voorsitter verkies was, terwyl Cockcroft die ondervoorsitter is, Kobie Pretorius die skakelbeampte, Anèl Pretorius die sekretaresse en Heloise McLaren die tesourier.
Dié tak se volgende vergadering is op 5 Februarie om 09:00 in Die Rots saal by die NG Kerk Secunda-Oos/Goedehoop-gemeente.
Belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.
Vir meer inligting, skakel Black by 082 586 9638.



