Local newsStreeknuus

VLU Delmas-tak skop 2025 propvol geesdrif af

Die nuwe jaar skop op ’n hoogtepunt af, want die Delmas-tak is die aanbieder van streekkonferensie wat op 1 Maart plaasvind.

Vir die VLU Delmas-tak bring 2025 ’n nuwe jaar wat met hope energie en positiwiteit aangepak word.

Dié tak het hul eerste vergadering op 21 Januarie in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas gehou.

Marié Terblancé, herverkose voorsitter, het vanjaar se bedrywighede geopen deur almal, ná die feesgety, hartlik welkom te heet.

“Marié het met ’n spesiale boodskap gegee van sleutels wat in die Bybel opgeskryf is om dan oop te maak vir tye wat vir ons moeilik is om te hanteer, ” het Magriet Swart, skakelbeampte vertel.

Celia van Wyk het vanjaar weer aktief by die tak se bedrywighede betrokke geraak en het ’n hartlike verwelkoming van taklede ontvang.

Celia van Wyk is weer as VLU lid verwelkom.

Onder lief en leed was daar dankbaarheid uitgespreek oor Margaret Bezuidenhout se man, Bez Bezuidenhout, wat goed herstel na ’n ongeluk.

Nog ’n lid wat goeie nuus gehad het, was Jeanette Scheepers. Sy en haar man, Louwtjie, gaan oupa- en oumagrootjie word.

“Op ’n meer hartseer noot was VLU-lede wat ’n kankerstryd stry in gebed vir genesing opgedra.”

Die onderskeie jaarverslae was ook voorgehou en deur lede goedgekeur.

“’n Mens is verbaas om te sien en te hoor hoe baie in ’n jaar gedoen was, dat ons produktief was met goeie uitslae by die konferensie en kongres,” het Magriet bygevoeg.

“Tussen werksklasse, demonstrasies, verskeie sprekers, geldinsalmelings, uitreike, kompetisies, aanleer van nuwe vaardighede en propvol vergaderings, was dit ’n jaar om op trots te wees.”

Die SAVLU se projek van die jaar vir 2024 was die brei van elfies wat aan getraumatiseerde kinders oor Kerstyd gegee is.

“Delmas-tak het 68 elfies gebrei en aan The Almond Tree, ’n bewaarhuis vir baba’s op Delmas, oorhandig.”

Ansie van Zyl, Marié Terblanche, Kobie du Plessis, Lonzelle du Plessis en Belinda Duvenage tydens die oorhandiging van gebreide elfies aan die The Almond Tree, die bewaarhuis vir baba’s op Delmas.

“Ons voorsitter het ook aan die landswye Miami-kompetisie deelgeneem en ’n derde plek behaal vir haar brood met een van Miami se produkte as bestanddeel,” het Magriet vertel.

Die nuwe jaar skop op ’n hoogtepunt af, want die Delmas-tak is die aanbieder van streekkonferensie wat op 1 Maart plaasvind.

Volgens Magriet beplan die Delmas tak om hul eie spyseniering vir die geleentheid te behartig en sodoende sommer dié geleentheid in ’n geldinsamelingprojek te omskep.

Met ’n bedrywige oggend het die vroue nie genoeg tyd gehad om aan hul werksklas te bestee nie en was die lede se ‘huiswerk’ om tuis lappies in sleutelhouers te omskep.

“Daar was versnapperings geniet en ‘Die Vinkels’ het ’n ligte ete aangebied met moussaka en slaai, afgerond met dadelblokkies en roomys as nagereg.”

Die tak het verder aangekondig dat hul ledetal van10 na 17 gestyg het.

“Ons by die VLU is hegte vriendinne, maar ook ’n gedugte span wat kan saamwerk en mekaar onderling vetrou en respekteer.”

“Nuwelinge word met ope arms verwelkom en ons nooi daarom vroue om ons vergadering te kom bywoon in ’n gesellige en positiewe atmosfeer,” het Magriet afgesluit.

Vir meer inligting kan Marié Terblancé by 083 968 2203 gekontak word.

Marie Jordaan, Eileen Putter, Margaret Bezuidenhout, Celia van Wyk, Lynette Gasson en Elna Kruger bespreek die maak van sleutelringe uit lap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button