Dwelmgebruikers maak Delmas begraafplaas hul tuiste
“Die toestande waaronder hierdie mense bly is afstootlik. Rommel word oral gegooi, dwelmnaalde is sigbaar en boonop word die grafte as toilette aangewend - daar is geen respek vir die grafte nie”

Grafstene gevandaliseer, rommel en gebruikte dwelmnaalde is wat die publiek in die gesig staar wanneer hulle die begraafplaas op Delmas besoek.
Met die aanhoudende reën wat in Desember geval het, was daar duidelike tekens dat sommige grafstene gesak het – die tekens was egter ook daar dat grafstene goedmoeds verniel word en kopstukke afgebreek word.
Na verneem word, het verskeie hawelose dwelmgebruikers, bekend aan die gemeenskap, hul intrek by die begraafplaas geneem.
Met Streeknuus se besoek aan die begraafplaas was dit duidelik dat daar op grafstene geslaap word en dat byna alle grafstene, in die omgewing waar die dwelmgebruikers bly, erg beskadig is.
Streeknuus het verder verneem dat daar die afgelope twee tot drie weke ’n vlaag van betredings en pogings to inbrake sowel as kabeldiefstal by Hoërskool Delmas plaasgevind het.
Die begraafplaas grens aan die hoërskool se sportvelde.
Die faktotum van Hoërskool Delmas, Chris Wessels, het die inligting aan Streeknuus bevestig.
“Natuurlik het ons geen bewyse dat dit die dwelmgebruikers is wat by die skool lol nie, maar ons het wel gebrande kabels gevind daar waar hulle bly,” het Wessels gesê.
“Die mense is sonder heenkome en hulle is honger.”
Volgens die voorsitter van AfriForum se Delmas Valke Buurtwag, Carel Botha, het die reaksielede die begraafplaas op 30 Januarie besoek nadat Wessels hom gekontak het.
“Die toestande waaronder hierdie mense woon, is afstootlik. Rommel word oral gegooi, spuitnaalde is sigbaar en boonop word die grafte as toilette gebruik – daar is geen respek vir die grafte nie.
“Ons kan nie met sekerheid sê dat dit wel die hawelose dwelmgebruikers is wat die grafte so breek nie, maar dit is tog opvallend dat dit slegs in die gedeelte is waar hierdie ‘druggies’ slaap.
Volgens ’n inwoner van Delmas, Neels Roets, is sy dogter daar begrawe.
“Al die blompotte op haar graf is vervwyder en die roosbome wat ek daar geplant het, is uitgetrek en weg,” het Roets laat hoor.
“Sou jy dus jou gestorwe familielid se graf wou gaan besoek, gaan jy jou vasloop in ’n vuil hool en dit is boonop gevaarlik,” het Botha bygevoeg.
“Hulle moet hul trek kry sodat die waardigheid van die begraafplaas herstel kan word en naasbestaandes in vrede en veilig grafte kan besoek. Die gemeenskap gaan nie toelaat dat jare se geskiedenis en herinneringe deur die onwelkome dwelmgebruikers vernietig word nie.”