Local newsStreeknuus

Diep familiebande binne die grense van Hoërskool Delmas gesmee

“Ek is daar vir ondersteuning, vir raad wanneer iets pla én ek beleef die groei van van my kinders eerstehands.”

Vir ouma Anita du Plessis, haar dogter Magda Herholdt en twee kleinkinders, Jadan en Jauné Herholdt is Hoërskool Delmas soos ’n huis weg van die huis af.

In dié unieke geval is ouma, haar dogter en twee van haar kleinkinders almal werksaam by dié skool.

Anita en Magda werk in die finansiële afdeling en Jadan en Juané is onderwysers.

Volgens Magda het sy diens in die finansiële afdeling by Dellies in 2017 aanvaar en saam met haar in die skool se finansiële kantoor is ouma Anita.

Anita het vertel sy is in Mei vanjaar reeds vier jaar in diens van die skool.

Ma Magda, Jadan en Jauné het boonop almal aan Hoërskool Delmas gematrikuleer.

Jadan het in 2020 gematrikuleer waarna hy ’n vlak een veldgids kursus voltooi het. Hierna het sy gewig as assistent-onderwyser by Dellies ingegooi.

Jadan is nou onderwyser in wiskunde geletterheid en lewensoriëntering. Hy is ook die voorsitter van bemarking by Dellies.

‘Kleinsus’ Jauné het in 2024 gematrikuleer en dit kon nie hoër of laer nie, sy moes ook as assistent onderwyser by Dellies inval.

Jauné se onderwystudie deur Aros maak dit vir haar moontlik en volgens haar is dit vir haar baie spesiaal om nou saam ouma, ma en boetie by haar alma mater te kon inval.

Beide Jadan en Jauné is betrokke by sport en Jauné gaan vanjaar die skool se tweede hokkiespan afrig
Jadan het aan die einde van 2024 met twee toekennings by die skool weggestap toe hy as top Dellie sowel as hokkiefrigter van die jaar bekroon is.

“Op ’n vraag aan Magda en Anita of hulle ooit stry kry daar waar hulle saam in die finansiële kantoor werk, het die antwoord uit beide se monde gekom: “O ja, ons doen, maar nee, dit is nooit ernstig of blywend nie.”

“Ons gaan nooit kwaad vir mekaar huis toe nie,” het Magda gesê.

“Ons vul mekaar ook goed aan, want soms raak ek ongeduldig en dan is my ma die kalm een en ander kere raak sy weer opgewerk en bly ek die kalm een; ons glo ons maak ’n goeie span,” het Magda vertel.

“Dit bly ’n groot voorreg en seën om so naby aan jou dogter en jou kleinkinders te werk en bly,” het Anita bygevoeg.

Magda het besef hoe geseënd sy is om haar twee kinders by haar te hê.

“Ek is daar vir ondersteuning, vir raad wanneer iets pla én ek beleef die groei van van my kinders eerstehands.”
Jadan en Jauné deel die sentiment met Magda.

“Jou ondersteuningsnetwerk is by jou en dit is lekker om, wanneer ’n probleem sou opduik, dit sommer gou met ma te kan bespreek.”

“Om te studeer, my passie vir onderwys uit te leef, sport af te rig en dit alles hier in die bekendheid van my eie skool-omgewing en met ouma, ma en my broer by my, is wonderlik,” het Jauné bygevoeg.

“Hoërskool Delmas is goed vir ons en daarvoor is ons baie dankbaar,” het Magda afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button