Egpaar van Trichardt vier 72ste huweliksherdenking
Jan Fourie is al 97 en sy vrou, Thenisa, is 93.

Jan Fourie (97) en Theunisa Fourie (93) het op 7 Februarie hul 72ste huweliksherdenking gevier.
Dié paartjie wat splinternuwe intrekkers by Terra Nova Aftree-oord is, is op 7 Februarie in 1953 in Bloemfontein getroud.
Dié paartjie is op 7 Februarie in 1953 in Bloemfontein getroud.
Theunisa het in die bank in Bloemfontein gewerk en Jan was in die vleisbedryf toe hulle mekaar by ’n dans ontmoet het.
“My swaer was op die raad by die hospitaal en my suster wat hom gehelp het by die dans, moes in die hospitaal opgeneem word en kon nie meer gaan nie, toe moes ek vir haar instaan,” het Theunisa vertel.
“Die dans het so gewerk dat ’n mens vir ’n rukkie met een maat dans en dan ruil of aanskuif en met iemand anders dans.
“Ek en Jan het saam gedans en daar ’n reëling getref om mekaar weer te sien.”
Die paartjie het vir drie jaar uitgegaan voordat hulle getroud is.

Hulle het kort na hul troue vanaf Bloemfontein na Port Elizabeth verhuis toe Jan as bestuurder by die destydse Vleisraad daar aangestel is.
Die paartjie het ’n paar jaar later hul eie slaghuis in Port Elizabeth oopgemaak en Jan as tot voor sy aftrede weer betrokke by die Vleisraad. waar hulle gewerk het totdat hulle afgetree het.
Hulle het wel vir ’n jaar Port Elizabeth vir Alberton verruil.
Hulle het drie kinders, waarvan hul middelste seun in 2016 oorlede is in ’n ongeluk naby Douglas in die Noord-Kaap toe hy ’n koedoe wat oor die pad gehardloop het, raakgery het.
Die Fouries het nege kleinkinders en nege agterkleinkinders.
Hul oudste seun en baie van hul kleinkinders en agterkleinkinders woon in Kanada terwyl hul een seun, Heinrich Fourie, en sy vrou, Christelle, op Trichardt woon.
Die paartjie het in 2023 vanaf Port Elizabeth na Trichardt verhuis en eers by Heinrich en Christelle gewoon voordat hulle by Terra Nova Aftree-oord ingetrek het.
Hulle het al vyf keer vir hul seun en kleinkinders in Kanada gaan kuier en was in 2019 vir die laaste keer daar vir hul kleinseun se troue.
Hul agterkleinkinders wat in Kanada foon het hulle nog net op video-oproepe gesien.

“Dit was lekker en interessant om te sien hoe die huise daar lyk; alles is verhit binne en ’n mens kan met kort moue rondloop,” het Theunisa vertel.
“Maar as jy by die huis uitgaan, is dit baie koud en dan moet ’n mens weer baadjies en warm klere aantrek.”
Een van die vyf kere het hulle sommer vir vier maande gaan kuier.
“Nou is ons te oud om weer te gaan kuier en dit is te vér,” het Theunisa gesê.
Volgens haar is die geheim vir hul lang huwelik Vicks en gebed.
“Vicks het my drie seuns groot gekry en gebed het ons bymekaar gehou,” het sy vertel.
Jan meen dit is net genade wat hulle bymekaar gehou het.
Beide het vroeërjare tennis gespeel en veral Jan was lief vir alle sportsoorte.
Hy het ook in sy vrye tyd horlosies herstel en gehou van algemene onderhouds- en herstelwerk.
Die paartjie het hul huweliksherdenking met koek en tee saam met hul vriende by die aftree-oord gevier.