AfriForum se tak op Secunda soek na inwoners met boorgate wat bereid is om hul gemeenskap by te staan tydens wateronderbrekings.
Volgens AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld, wil AfriForum slimklep noodwaterpunte oprig wat die hoeveelheid water wat elke inwoner neem in tye van nood, reguleer om te verseker dat almal tydens wateronderbrekings toegang tot skoon water het.
“Watervoorsiening na dorpe in die Govan Mbeki munisipale omgewing is onvoorspelbaar, water is gereeld af en met tye duur wateronderbrekings lank,” het Bekker gesê.
AfriForum help reeds dorpe soos Bethal met water tydens ondebrekings en het tot op hede meer as ’n miljoen liter water aan die Bethal gemeenskap voorsien.
Dié organisasie wil nou dié inisiatief uitbrei na ander dorpe wat Secunda, Kinross en Evander insluit.
AfriForum kort egter inwoners wat boorgate in hul erwe het, se hulp om dié inisiatief van stapel te stuur.
Die beskikbare boorgate sal dan toegerus word met ’n pomp, ’n tenk en ’n slimklep.
Die slimklep sal verseker dat water nie misbruik word of getap word om elders verkoop te word nie.
“Die slimklep gaan watervoorsiening in tye van nood bestuurbaar maak en verhoed dat daar misbruik gemaak word van inwoners se goeie gebaar.”
“AfriForum is bewus van die uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar en maak planne wat uitvoerbaar en prakties is. Dit is juis dié planne wat die gemeenskap deur krisis tye sal dra,” het Bekker gesê.



