Wynkenner van Standerton vertel van Gewürztraminer-kultivar
Vandeesweek kyk ons na ’n egte Suid-Afrikaanse witwyn wat van hierdie kultivar gemaak word, die Simonsig Gewürztraminer.
Eugene Viljoen is ’n wynkenner met ondervinding vanaf die Kaapse Wynakademie, waar hy aan die SA wynkursus deelgeneem en ’n sertifikaat ontvang het.
Hy het aan die Standerton Advertiser ’n bietjie meer verduidelik oor die Gewürztraminer-kultivar, ’n besondere druif wat in die koue, heuwelagtige klimaat van die Ryn in Duitsland floreer.
“Wat dié kultivar spesiaal maak, is dat hy algemeen nader aan die winter ryp word,” het Viljoen verduidelik.
In sommige gevalle word die druiwekorrels toegelaat om op die wingerd te vries voordat dit gepers en verwerk word. Dié proses word ‘yswyn’ genoem.
Volgens Viljoen vries hierdie kultivars teen ’n natuurlike temperatuur van -8°C op die wingerd, wat die sap en suiker konsentreer en ’n heerlike soet nageregwyn maak.
Vandeesweek kyk ons na ’n egte Suid-Afrikaanse witwyn wat van hierdie kultivar gemaak word, die Simonsig Gewürztraminer.

Dié wyn is nie ’n ‘yswyn’ nie. Volgens Viljoen is dit ’n groot risiko vir Suid-Afrikaanse wynmakers om dié kultivar aan te plant weens die hoë temperature.
“Hierdie wyn het ’n goudkleurige kern wat egalig tot op ’n ligte strooi-kleur uitloop,” het Viljoen gesê.
Viljoen het verduidelik dié wyn se note lê op mekaar en dat die smaak nie opvallend eentonig is nie. Volgens Simonsig se webtuiste bevat die wyn note van litchi en lemoenskil, maar die smake wat Viljoen ervaar het, sluit ryp vrugte en ’n mate van piesang in.
Viljoen is van mening dat reuk en smaak subjektief is, en dat verskillende mense verskillende note in die wyn sal kan optel.
“My raad is om jou reuk- en smaaksintuie te ontwikkel deur in supermarkte rond te loop en aan die talle vrugte te ruik,” het Viljoen gesê.
Die reuke wat in hierdie wyn oorheers, sluit die soeter geure van ryp vrugte en roosblare in. Volgens Viljoen het dié wyn ’n goeie balans, omdat die note wat geruik kan word, goed oordra na die smaak.
LEES OOK: Stay safe from fires this winter
LEES OOK: Father of 8 from Standerton tells of his role



