Local newsStreeknuus

Juffrou van Bronkies volg haar geliefde na Rusland

Jenine Pretorius is vroeër vanjaar getroud met Lourens, ’n boorling van Secunda wat professioneel rugby speel in Rusland. Jenine wil graag nader aan hom wees.

’n Nuwe avontuur wag op Jenine Pretorius van Bronkhorstspruit, wat binnekort na Rusland vertrek.

Dié Graad Een onderwyseres het Laerskool Du Preez van Wyk aan die einde van Mei verlaat en begin in Julie as au pair in Moskou werk.

Die rede vir dié groot stap? Die liefde, natuurlik.

Sy is vroeër vanjaar getroud met Lourens, ’n boorling van Secunda wat professioneel rugby speel in Rusland. Jenine wil graag nader aan hom wees.

“Hy woon in Krasnoyarsk, ’n dorp in Siberië. Hoewel dit nog ver van Moskou af is, is ons darem in dieselfde land,” het sy verduidelik.

Jenine sal hom minstens elke tweede maand kan sien. Die paartjie se liefdesverhaal het ontstaan uit ’n diep vriendskap en sterk geloof.

“Ons paaie het sewe jaar gelede vir die eerste keer gekruis. Lourens het toe vir Tuks se Varsity-span gespeel. Wat as ’n kosbare vriendskap begin het, het ses jaar lank voortgeduur – ons het gereeld kontak gehou en was deel van mekaar se lewens op ’n afstand, met altyd die hoop dat ons paaie eendag werklik sal kruis,” vertel Jenine.

“Eers verlede jaar, terwyl hy reeds in Rusland was, het ons verhouding verdiep. Alles het toe op sy plek begin val – dit was God se tydsberekening. Twee maande later was ons verloof, en vyf maande daarna is ons getroud.”

Die fisieke afstand, verskillende kontinente en ’n tydsverskil van vyf uur het dinge bemoeilik.

Die egpaar het saam gebid dat Jenine ook ’n werkgeleentheid in Rusland sou kry – en nou beplan hulle om die volgende drie tot vier jaar daar te woon.

“Hoewel die oorlog dikwels in die nuus is, is dit steeds relatief veilig. Die mense leef hul daaglikse lewens normaal voort, en behalwe vir die sanksies, word hulle nie direk geraak nie. Die Suid-Afrikaners daar hou styf bymekaar en kuier gereeld saam.”

Wat die ervaring vir Jenine nog meer besonders maak, is dat Lourens deel is van ’n span met sowat ses Suid-Afrikaanse spelers – “’n klein stukkie tuiste in ’n vreemde land”.

Sy beskryf haar ses jaar by die Duppies as kosbaar.

“Onderwys is ’n roeping. Ek het nie onderwys gekies nie – dit het my gekies.

“Daar is geen groter beloning as om te sien hoe ’n kind groei in selfvertroue, struikelblokke oorkom, en besef hulle is tot soveel meer in staat as wat hulle ooit gedink het nie,” sê sy.

Elke kind in haar klas het ’n spesiale plek in haar hart.

“n Mens kan nie anders as om vir die kindertjies lief te raak nie. Ek wens ek het ’n boek gehou van al die kostelike sêgoed wat ek al gehoor het,” vertel sy.

Jenine kuier tans vir oulaas by haar ouers naby Hoedspruit voordat sy binnekort vir Suid-Afrika totsiens sê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button