Delmas Krieketklub beur voort in die winterliga
Tydens dié kragtige vertoning het die Delmas Krieketklub ’n indrukwekkende sege behaal toe hulle die Daredevils Old Boys met 6 paaltjies verslaan het.
In die winterliga moes Delmas Krieketklub op 28 Junie die knie buig teen die Royal Knights in Middelburg tydens ‘n spannende wedstryd wat tot die laaste paar beurte voortgeduur het.
Die Royal Knights het eerste gekolf en ’n stewige totaal van 153/9 lopies op die telbord geplaas ná hul volle kwota van 20 beurte. Mandla Mondosi het met 1/20 weer eens sy ervaring gewys deur die aanval te lei met een belangrike paaltjie.
Modosi was goed bygestaan deur Kobus Oberholzer met 2/22 en Kobus Naudé met 2/27, wat gehelp het om die Royal Knights se momentum te beperk.
“In antwoord het Oberholzer met die kolf uitgestaan en ’n puik beurt van 77 lopies van slegs 53 balle verkry,” het Delmas kaptein Tyrone Greyling, gesê.

“Ongelukkig het hy min ondersteuning van die res van die kolwers gehad, en Delmas kon uiteindelik net 138/6 lopies aanteken – 15 kort van die teiken.”
Greyling het bygevoeg dat, alhoewel die uitslag nie in Delmas se guns was nie, daar verskeie individuele prestasies was waarop hulle in komende wedstryde kan voortbou.
Hy het ook genoem dat die span waardevolle ervaring opgedoen het en verder kan voortbou op hul wen teen die Daredevils Old Boys op 21 Junie.
Tydens dié kragtige vertoning het die Delmas Krieketklub ’n indrukwekkende sege behaal toe hulle die Daredevils Old Boys met 6 paaltjies verslaan het.
Die wen-wedstryd het vinnig momentum gekry toe Mandla, Kruger Spies en Greyling buitengewone druk op die teenstanders se kolwers geplaas het.

Hul gekombineerde poging met die bal het gesorg dat die Daredevils vir slegs 43 lopies uitgeboul is – dit alles binne net 11 beurte.
Delmas se kolwers het daarna die oorwinning professioneel beklink deur die teiken in die negende beurt te bereik, met vier paaltjies wat nog in die hand was. Greyling het na dié wedstryd sy span geloof vir hul deursettingsvermoë en vasberadenheid.
“Ons het as ’n eenheid gespeel. Dit is wat die verskil tydens hierdie wedstryd gemaak het. Die span het hul oorheersing op die veld duidelik gestel en hul karakter en samewerking ten toon gestel,” het Greyling gesê.
Delmas Krieketklub nooi enige belangstellende spelers om vir Cliffard Gerber by 072 047 3827 te skakel.



