Gholfspelers dra mildelik by tot Ons Eie Ouetehuis op Delmas
“Ten spyte van die koue was Ons Eie se eerste gholfdag ’n groot sukses.”
Met die kwik net-net bokant vriespunt was dit ’n bibberkoue wintersoggend op die Delmas gholfbaan, maar dit het gholfspelers nie gekeer om vir die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) Ons Eie Ouetehuis op Delmas af te slaan nie.
Hierdie fondsinsameling-gholfdag is op 27 Junie by die Delmas Gholfklub aangebied ten bate van die verswakte bejaardes van Ons Eie Ouetehuis.
Borge, stalletjies en lekker kos uit die klub se kombuis het gesorg vir ’n gesellige atmosfeer. Na afloop van die dag se spel was Paul Beukes en Jaco du Plessis die wenners. In die tweede plek was Neil en Tanya de Lange vanaf Secunda.
In die derde plek was Werner Venter en Willie Saaiman. Francois Kruger en Tyron Engelbrecht kon die bal die naaste aan die pen plaas, terwyl terwyl Zander van Deventer en Jorrie Jordaan vir die langste drywe gesorg het.
“Ten spyte van die koue was Ons Eie se eerste gholfdag ’n groot sukses. Dankie aan almal wat deel was van ons geldinsameling.
“Elkeen se bydrae, betrokkenheid en vrygewigheid maak ’n groot verskil in die lewens van ons verswakte inwoners,” het Sharon Rabie, die bestuurder van Ons Eie Ouetehuis, gesê.












