AfriForum buurtwagte in Delmas-omgewing slaan tande al dieper in misdaad
Die Valke Buurtwag, soos nou reeds tradisie, het weer die aand se massapatrollie met ’n gesinsvriendelike aktiwiteit afgeskop.
AfriForum se tweede massapatrollie vir 2025, op 18 en 19 Junie, het weer vrugte afgewerp met ’n aantal noemenswaardige suksesse.
Tydens die patrollie het AfriForum onder meer ’n beduidende rol gespeel deur ’n gesteelde voertuig en vee terug te vind. Hulle het met verskeie inhegtenisnames gehelp en ’n voorval van huishoudelike geweld hanteer.
As een van die organisasie se 177 buurtwagte het die Delmas Valke Buurtwag ook weer meegedoen aan die nasionale patrollie deur gebiede te patrolleer en sodoende die gemeenskap se veiligheid te verseker.
Die Valke Buurtwag, soos dit nou reeds ’n tradisie is, het weer die aand se massapatrollie met ’n gesinsvriendelike aktiwiteit afgeskop.
Tydens ’n patrollie deur die dorp se strate kon die jong Valkie-lede, gewapen met flitse, weer aan ’n skattejag deelneem.
Gelukspakkies gelaai met ’n warmwatersak, lekkergoed en ander bederfies is op verskeie plekke weggesteek vir die kleingoed om te ontdek.
Na afloop van die gesinspatrollie het ander lede met die nag se bedrywighede voortgegaan.
Verder op Delmas, het AfriForum met die SAPD Bethal Veediefstaleenheid saamgewerk om opleiding in die voorkoming van veediefstal aan lede van die Delmas Buurtwag te bied.
Soos berig in Streeknuus (27 Junie) was daar tydens operasies by twee veeveilings op Sundra nege vermeende gesteelde koeie geïdentifiseer.
Hierdie ontdekking het gelei tot nog ’n operasie waarin 45 gesteelde beeste ontdek is. ’n Bykomende 20 vermeende gesteelde beeste is ook op ’n ander plek naby Hendrina gevind.
’n Verdagte is in hegtenis geneem en het die owerhede na die laaiplek geneem waar ’n voertuig en twee sleepwaens wat in die misdaad gebruik is, gestaan het.
“Die effektiwiteit van buurtwagte se deelname aan dié massapatrollies moet geensins onderskat word nie. Sigbaarheid op dorpe en in stede moet ten alle tye teenwoordig wees,” het Carel Botha, die voorsitter AfriForum Delmas Valke Buurtwag, gesê.
“Die aktiewe deelname van ons vrywilligers aan hierdie massa-inisiatief bewys weereens hoe noodsaaklik georganiseerde gemeenskapsveiligheid is in ’n land waar misdaad steeds buite beheer raak,” het Jacques Broodryk, AfriForum-hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, gesê.
“AfriForum is trots op elke patrolleerder wat hul tyd en vaardighede opoffer om hul gemeenskappe te beskerm. Ware veiligheid begin by die gemeenskap self,” het Broodryk afgesluit.



