BlogsOpinion

Samajoor van die Hoëvelder se geelkaartjie-stelsel

Bewaar egter jou siel as jy jou geel kaartjie vergeet óf as jy slinks meer as een koerant wil gaps sonder dat sy agterkom, want tannie Marie sal lag-lag jou vingers afsny en boonop met ’n stomp mes!

Ek het vandeesweek besluit om so bietjie gesig te wys en die mense van ons gemeenskap te leer ken, terwyl individue en ondernemings hul koerante Donderdag by die Hoëvelder kom afhaal het.

Tannie Marie van Nieuwenhuizen, ’n bekende gesig in die Hoëvelder se voorportaal, was vroegoggend reeds op haar pos, reg om sake te bestuur soos net sy kan.

Jy sien, híer in die voorportaal vind daar na my mening, towerkuns plaas, want 18 000 koerante word deur haar uitgepak en binne ’n paar uur is dit skoonveld!

Nou ek weet nie of jy, soos ek, ’n wiskundige agterstand het nie, maar die ‘antie’ soos sommiges haar noem, het ’n syferbrein!

Dis tiene hier, kruisbondels van 50 daar, twintigs voor, dertigs agter en ’n duisend en twee verskillende dinge terselfdertyd, terwyl sy elke persoon groet en met hul in-diepte en volwaardige gesprekke oor ditjies en datjies voer, sonder ’n ‘umm’ of ‘aa’.

Bewaar egter jou siel as jy jou geel kaartjie vergeet óf as jy slinks meer as een koerant wil gaps sonder dat sy agterkom, want tannie Marie sal lag-lag jou vingers afsny en boonop met ’n stomp mes!

Met militaristiese presisie word elke persoon na die regte bondel verwys, terwyl ek net in verwondering kan staan en toekyk – ’n môre oompie, môre tante, is al wat ek in die geroesmoes van stemme, inkry.

“Ek doen dit al sedert 2003,” kon sy net troos toe sy die verwarring op my gesig opmerk.

Ek is seker dat al het ek tannie Marie se ondervinding gehad, ek uiteindelik net my hande sou oorgee aan die genade, want wragtig, dis dié soort georganiseerde chaos waarvan ’n mens die werking nie begryp nie.

En ná die verkeersophoping en ontmoeting met die mense van die gemeenskap, sit ek rustig en probeer die som vir myself uitwerk, dié stelsel werk, want die gemeenskap maak dit werk.

So laat my toe om waarlik vir elke persoon en onderneming dankie te sê.

Dankie dat jul só lojaal die Hoëvelder weekliks ondersteun.

Maar ek dink ek moet ook spesiaal van dié platform gebruikmaak om vir tannie Marie te sê, tannie, jy’s absoluut ’n ster en aanwins vir die Hoëvelder!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button