BlogsOpinion

Beurtkrag, dis maar nóg ’n ‘fase’…

Almal vlieg vervaard op en papiere dwarrel die lug in soos elkeen skarrel om voor ’n rekenaarskerm te kom.

Die getrieeng van die opwenwekker skeur deur die skemerdonker van die vroegoggendstilte en ruk my uit my half-bewustelose sluimertoestand.

Met oë half oop óf half toe, hoe ookal dit mag sy, voel-voel ek in die donker vir my “corduroy”-broek wat iewers in my hangkas wegkruip.

Buite is dit nog vuil-donker, maar hulle sê mos, die môrestond sit goud in die mond.

Sukkel-sukkel kry ek uiteindelik die verlore broek van die draadhanger, wat lankal reeds sy driehoekvorm verloor het weens ses ander broeke se gewig, afgehaak.

Ek struikel-val my voete in die broekspype in en hervat my soektog in die donker vir ’n gepaste hemp.

Die koffiekannetjie word op ’n gasstofie neergeplonk, wat vir my tyd skep om van my draakasem ontslae te raak.

Met ’n skotteltjie water, marsjeer ek badkamer toe.

Oudergewoonte skrop ek eers met die waslap die sand uit my oë en daarna was ek die “tanne”.

Die keteltjie jil met ’n skerp gefluit en ek gehoorsaam sy roepstem.

Teen dié tyd begin die horlosie se wysers al vinniger roer en ek moet jaag om klaar te kry vir werk.

Die kokende koffie word in my keel afgegooi en ek storm met derdegraadse brandwonde op my tong die dag binne.

By die kantoor arriveer die personeel vaal en vertoiingd.

Ons sit vanaf 8vm tot 10.30vm en verwyl die tyd met ditjies en datjies totdat die krag skielik aankom.

Almal vlieg vervaard op en papiere dwarrel die lug in soos elkeen skarrel om voor ’n rekenaarskerm te kom.

Uiteindelik, net voor vyf, is die laaste bietjie werk op datum en kan ons ons moeë liggame huiswaarts sleep.

Vroutjie is reeds op haar pos voor die gasstofie en die moontlikheid bestaan dat ons binne twee ure ’n romantiese etetjie by kerslig sal kan geniet.

Teen agtuur is beide ons, ons seuntjie en die mot moeg van staar na die kers se vlam en is dit weer tyd om badkamer se kant toe te staan met die nou bekende wasskotteltjie.

Ons was net die nodigste voor ons maar gaan inkruip.

Ons voel aan eie bas dat die realiteit van sonder krag klaarkom nie kinderspeletjies is nie.

Individue en organisasies betaal getrou hul rekeninge, maar moet boet weens ons plaaslike munisipaliteit en Eskom se wanbestuur van sake.

Ons is woedend en soek ’n uitlaatklep vir ons frustrasie.

Maar al wat oorbly, is om berusting te vind in die wete dat God ons behoeftes en die drang na ’n voortbestaan in die land wat Hy ons gegee het, ken.

Hou vas aan die wete dat die seisoen altyd sal draai en die oggendson sal terugkeer al lyk sake hoe beroerd.

Van ons almal hier by die Hoëvelder, dankie aan al ons lesers en kliënte vir jul getroue ondersteuning deur die jaar.

Ons wens vir julle en jul gesinne ’n geseënde feesseisoen en voorspoedige nuwe jaar toe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button