BlogsOpinion

Word wakker Suid-Afrika!

Ek verhelder my denke deur terug te dink aan vroeër vanoggend toe ek saam met my vrou en seuntjie gekniel het om te bid... meteens bedaar my gedagtes.

Word wakker Suid Afrika
 
Dit is ’n dag wat met motreën nat is, omsoom met ’n snerpende windjie wat deur elke kraak van my bakkie valse note van onheil sing.
 
Daar is geen siel in sig nie en dit tref my…ek is alleen.
 
Ek verhelder my denke deur terug te dink aan vroeër vanoggend toe ek saam met my vrou en seuntjie op die koue kombuisvloer gekniel het om te bid… meteens bedaar my gedagtes.
 
Soos ek deur ’n leë Ermelostraat ry, dink ek aan al die dinge wat ek voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, vriende, familie selfs my vryheid om rond te kan beweeg.
 
Dit voel soos ’n droom, so paar maande gelede het ek nog beplan aan ’n vakansie, strategieë vir ons rolbal-besigheidsliga beraam, my familie besoek en in die strate van my dorp geloop sonder ’n permit, identiteitskaartjie…en masker.
 
Dit is nie lank voordat dié gedagtes deur sirenes, wat sonder waarskuwing begin loei het, onderbreek word nie, en ek besef dit is tyd om te werk.
 
Polisiebeamptes, die weermag en verkeersbeamptes is ontplooi om te verseker dat mense streng volgens die regulasies, noodsaaklike goedere en dienste kan bekom.
 
Maar, dit is asof die leë strate waar ek net ’n paar sekondes vantevore gery het, nou ver agter my is.
 
Waar jy kyk drom mense saam, doen inkopies, ry op en af deur die strate en staan selfs en ongemaskerde-geselsies aanknoop.
 
Ek was geskok om te sien hoeveel mense NOODSAAKLIKE goedere so vroeg in die 21-dae van isolasie benodig. Ek het werklik gedink, nee, GEHOOP, dat ek eers baie later, weens ’n onvoorsiene toedrag van sake, mense in die strate sou gewaar.
 
Wat doen ons? Besef ons dan nie die erns van dié onsigbare virus nie? Dit blyk sosiale distansiëring en isolasie is bloot terme waarvan die meerderheid van mense ’n dwaalbegrip het.
 
Ek glo ons kan dié ding oorwin, ek glo ons kan enige iets oorwin solank ons saamwerk, maar só sal dit nie geskied nie.
 
In ’n tyd waar mense hul lewens op hou moet sit, baie mense hul salarisse en werke kwyt is, besighede se voortbestaan in die weegskaal hang en die president sy land se ekonomie as offerlam vir sy landsburgers se oorlewing moes gee, is dit bitter hartseer om te sien hoe mense maar net voortgaan soos normaal…
 
Word wakker Suid-Afrika…bly by jou huis!
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button