Local sportSport

Worpe-afrigter van Secunda wil Springbokatlete brei

Leandri Lamprecht van Secunda wat in 2016 die Afrika-kampioenskap in Angola gewen het, is ook een van mnr. Stander se atlete.

Mnr. Frik Stander (61), ‘n worpe-afrigter van Secunda, het in sy 33 jaar van afrigting verskeie Springbokatlete opgelewer.

Hy het in 1976 vir die Vrystaat in die 0.19-spiesgooi deelgeneem en was gereken onder die top agt spiesgooiers in die land. Hy het tydens sy weermagopleiding vir die SA-weermagspan deelgeneem.

Mnr. Stander het in 1987 vir die laaste keer as senior aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem.

“Ek sou baie graag in daardie tyd op internasionale vlak wou deelneem, maar weens sanksies was dit my nie beskore nie.”

Dit was ‘n dekade later toe hy as meestersatleet vir die eerste keer internasionaal deelgeneem het. Hy is toe as Afrika-kampioen in spiesgooi gekroon en hy het verskeie kere aan wêreldkampioenskappe en Wêreldspele deelgeneem.

Sy hoogtepunt was die tweede plek uit ‘n totaal van 49 spiesgooiers wêreldwyd wat hy in 2009 op die Wêreldspele in Sydney, Australië, verower het.

“Dit was vir my besonders, want toe het ek die kans gehad om teen die ander wat destyds wêreldkampioene was, deel te neem.”

Mnr. Stander is ook die Afrika-kampioen in vyfkamp wat spiesgooi, gewigstoot, skyfwerp, 200m-naellope en ‘n 1 500m-wedloop insluit.

Hy beplan om weer te begin deelneem. Sy afrigting het baie tyd in beslag geneem, maar omdat hy nou afgetree het, is daar meer tyd beskikbaar om te oefen. Hy rig tans verskeie plaaslike atlete af, maar ook heelwat Vrystaatse atlete waaruit verskeie kampioene opgelewer is.

In die laaste vyf jaar het hy vier Springbokatlete opgelewer, soos Mandie Venter van Guateng-Noord wat as ‘n 16-jarige atleet die spies oor die 50m gegooi het, en Hernu van Vuuren van die Vrystaat wat nou aan die Universiteit van Johannesburg studeer.

Mnr. Stander rig dié steratleet vir die laaste nege jaar af. As 19-jarige atleet het hy die spies 74.86m gegooi en was onder die top drie in die wêreld. Hernu is nou 20 jaar oud en sy beste afstand vir 2018 is tans 76m.

As 0/17-atleet het Hernu die spies 79.04m ver gegooi.

Leandri Lamprecht van Secunda wat in 2016 die Afrika-kampioenskap in Angola gewen het, is ook een van mnr. Stander se atlete. Sy het as 17-jarige die spies oor die 50m gegooi. Volgens mnr. Stander is daar min meisies wat ‘n spies meer as 50m kan gooi.

Lees ook: Leandri Lamprecht mik hoog

Dié afgetrede GAR-bestuurder by Sasol Steenkool reis nou elke Maandag na Bethlehem in die Vrystaat waar hy sowat 20 atlete afrig.

Mnr. Stander is bereid om onderwysers met spiesgooi te help om die regte grondslag te lê, omdat dit ‘n baie tegniese item is.

Sy oefenprogram laat nie toe dat sy atlete elke dag gooi nie. Hulle moet onder meer kragwerk, plofkrag, ritme en spoedwerk doen. As die regte tegniek van die begin af geleer word, beperk dit die kans vir beserings.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button