Gemenge gevegkunsvegter van Secunda is gereed om weer te veg
Dit is die grootste geveg in Doyle se loopbaan tot dusver.
Cedric Doyle, beter bekend as The Dominator in gevegskringe, is ’n plaaslike gemengde gevegkunsvegter en gaan na twee jaar en ’n groot breinoperasie weer in die ring klim.
Doyle moes in April 2016 ’n gevaarlike breinoperasie ondergaan toe hy tydens ’n geveg seergekry en bloeding op die brein gekry het.
Hy het teen Irshaad Sayed geveg en het na die geveg begin sleg voel en is hospitaal toe.
Daar het dokters die breinoperasie op hom uitgevoer.
Hy het in die twee jaar wat hy nie meegeding het nie, sy klub, Dominator’s Den, waar hy gemengde gevegkuns, Brasiliaanse Jiu Jutso en fiksheidsklasse vir vroue aanbied, oopgemaak en daarop gefokus om jong vegters af te rig.
Doyle het ook aan Jiu Jutso deelgeneem en al sy gevegte in dié sport gewen terwyl hy gerus het en sy brein kans gegee het om te herstel.
Hy het ook in dié tyd op sy tegniek gefokus.
“Die dokters het gesê die brein neem ’n jaar of twee om te herstel en ek is dankbaar dat ek in dié twee jaar kon afrig,” het Doyle gesê. Ek was dus heeltyds by gevegkuns betrokke en kon my omring met mense wat my nou kan help om te oefen en vir my eerste geveg voor te berei.”
Doyle se eerste geveg is op 23 Junie tydens die EFC 71-kampioenskap by Carnival City.
Hy sal kragte meet met Nerick Simoes van Angola en hul geveg is die hoofgeveg vir die aand wat lewendig op SABC 3 uitgesaai gaan word.
Hy het die dokter wat hom opereer het, dr. Kobus Steyn, gaan sien voordat hy geteken het om weer te baklei en die dokter het gesê Doyle is gereed vir die gevegring.
“Hy is een van die beste dokters in Suid-Afrika en het gesê my brein het 100 persent herstel. Ek weet van niemand wat al in die verlede na ’n breinoperasie weer aan dié harde sport deelgeneem het nie en ek glo ook nie iemand sal ooit weer nie,” het Doyle gesê.
“Min mense het die veggees en die wil wat ek het.”
EFC het Doyle op hul webwerf as een van die gevaarlikste atlete beskryf en gesê hy het al twee keer vir die titel van EFC-kampioen geveg.
Een keer het hy teen Demarte Pena geveg en die tweede keer teen Sayed.

Volgens EFC se webwerf was Doyle die vegter wat die naaste daaraan gekom het om Pena en Sayed tydens ’n geveg uit te slaan en te wen.
Doyle is vasbeslote om dié keer as kampioen uit die EFC-arena te stap en het gesê hy is 100 persent voorbereid en gereed vir sy geveg op 23 Junie.
“Ek voel baie geseënd dat ek weer ten volle kon herstel na die operasie en weer dit kan doen waarvoor ek so lief is. Baie mense sê ek doen nie die regte ding om weer by dié gevaarlike sportsoort betrokke te raak nie, maar ek doen wat goed is vir my siel en ek luister na my hart.
“Die opkomende vegters van Dominator’s Den het my help voorberei vir dié geveg wat die grootste geveg in my lewe is.”
Doyle werk voltyds by Sasol as kwaliteitskontroleerder en leef deeltyds sy droom van gemengde gevegkunsvegter uit.
Hy oefen twee keer ’n vanaf Maandae tot Saterdae.
In die oggend voor werk is Doyle al by die Grip and Rip Crossfit-sentrum waar hy kragwerk en fiksheid doen en saans is hy in sy klub waar hy gevegkuns oefen.
Hy oefen Saterdag by die House of Tinkerbell Gemengde Gevegskunsklub op Springs.
Doyle volg ’n spesiale eetplan om sy gewig presies reg te kry vir die geveg.
“Ek het dié keer meer aandag gegee aan voeding en hidrering omdat dit die probleem was twee jaar gelede toe ek seergekry het, daar was nie genoeg vloeistof en vog in my liggaam en in my brein nie.”
Doyle het nie ’n afrigter gehad soos vegters van die stad nie en het alles wat hy van gemengde gevegkuns af weet, vir homself geleer.
Hy is dankbaar vir die vegters wat hy nou afrig wat hom kan help om voor te berei vir sy geveg.
Doyle het sy ondersteuners genooi om na sy geveg te gaan kyk en hulle gemaan om kaartjies in Blok F te koop omdat al sy ondersteuners daar gaan sit.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket en die geveg word om 9.30nm op SABC 3 uitgesaai.
Lees ook: Secunda MMA fighters excel at Fightstar 28
Hy het sy vrou, Ilse, vir haar ondersteuning bedank, asook Roman Alarms, Ricky B, sy vegters by Dominator’s Den en sy vriende en familie.
Vir meer inligting oor die klasse wat Doyle by Dominator’s Den aanbied, stuur ’n boodskap op dié klub se Facebook-blad, Dominator’s Den, of om Doyle in sy persoonlike hoedanigheid te volg, soek hom op Facebook by Ilse-Cedric Doyle.
Om hom op Instagram te volg, soek @cecricthedominator of op Twitter by Dominator Doyle.
Ondernemings of individue wat hom wil borg of hul kentekens op sy klere of banier wil adverteer, kan deur sosiale media met hom in verbinding tree.



