Bethal-spelers trek vir Anver January (skrumskakel) plat.
SECUNDA – Die Sasol Digimag-rugbymasjien se derdespan het Saterdag, 23 Junie die Bethal tweedes geklop tydens die Hoëveld Burgemeester-reserwesliga van die Pro Tours-reeks.
Die ‘Sasol-trokke’, soos hulle na hulself verwys, het die Bethallers met 31-0 verslaan.
Sasol Digimag se flank (oopkant), Isak de Klerk, het binne die eerste vyf minute onder die doellyn gaan kuier. Die drie is deur Anver January, skrumskakel, verdoel.
Bethal se spelers het kort-kort probeer om deur Sasol se verdediging te breek, of om die Sasol-trokke van hul doelpale weg te hou.
In een só ’n skouspelagtige verweer het Bethal se Dolf Brits vir Franco Bezuidenhout van Sasol in sy oorduik vir ’n drie gestuit. Kort daarna het Bethal self veroorsaak dat Sasol punte op die telbord geplaas het.
Bethal is naby hul pale gestraf omdat een van hul spelers se hand in die skrum was. Sasol se skrumskakel, Anver January, het die bal gemaklik deur die pale gestuur om die telling na 10-0 op te skuif. Dit was die rustydtelling. Albei spanne het met die aanbreek van die tweede helfte ’n paar vars spelers op die veld gestuur. Hoewel Bethal gereeld druk toegepas het en die wedstryd baie in Sasol se kwartgebied afgespeel het, het die deurbraak net nie gekom nie.
Sasol Digimag se slot, Jaxa Zulu, vang die bal in n lynstaan.
Sasol se reserwespeler, JC Schambriel, wat in sy nommer 19-trui as losskakel opgedraf het, het sy kans afgewag en, toe Bethal die bal laat val het, dit blitsig opgeraap en oopgelê oor die veld tot onder Bethal se pale waar hy die drie beklink het. Dit is deur Dirk Coetzee wat as skrumskakel op nommer 21 gespeel het, verdoel.
In bykans soortgelyke omstandighede het Sasol se Happy Selepe wat as nommer 22 in die posisie as regtervleuel sy tokse volgestaan het, soos ’n spoetvraat die lengte van die veld afgenael vir nog ’n drie. Coetzee het ook dié drie verdoel.
Die laaste drie in die wedstryd sal waarskynlik nog lank by die Bethallers spook.
Die wedstryd se laaste minuut of twee het op Bethal se doelgebied afgespeel. Die Bethallers was vir ’n oomblik verlig toe Sasol oortree het en die bal aan Bethal toegestaan is, maar met die vinnige wegskop om te probeer veld wen, het Sasol se Schambriel die skop vlak voor die skopper in die lug gevang en op die grond onder die pale vasgepen.
Schambriel het self dié drie verdoel voordat die eindfluitjie geblaas het.
Hy is as Sasol Digimag se agterspeler van die wedstryd aangewys. Jaxa Julu, slot, is as voorspeler aangewys.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!