Local sportSport

Elri geniet perde en polocrosse

Hulle gaan in Augustus teen Ierland deelneem.

BETHAL – Me. Elri de Jager het polocrosse begin speel toe sy 12 jaar oud was.

As die enigste kind van mnr. Gert van der Merwe, ook ’n ywerige polocrosse-deelnemer, het sy as kind gereeld saam met haar pa dié sportsoort met perde beoefen.

“Dit was spesiaal om tyd saam met hom te bestee,” het me. De Jager gesê.

Sy en haar man, mnr. Johan de Jager, is gekies om vanaf 10 tot 12 Augustus aan ’n internasionale polocrosse-kompetisie op Port Shepstone deel te neem.

Suid-Afrika gaan tydens dié kompetisie met Ierland kragte meet.

Mnr. De Jager het eers sowat drie jaar gelede dié sportsoort begin beoefen en het Mpumalanga-kleure verwerf.

Me. De Jager het al verskeie kere Mpumalanga-kleure en Springbokkleure in polocrosse verwerf.

Sy het verlede jaar aan die polocrosse-toetse tussen Suid-Afrika en Australië in Australië deelgeneem.

Mnr. Van der Merwe neem al vir 29 jaar aan polocrosse deel, maar is deesdae meer by die Western Mounted Games betrokke.

“Polocrosse is ’n vinnige kontaksport en ’n mens moet fiks wees en gereeld oefen om dit te kan doen,” het me. De Jager gesê.

Mnr. Van der Merwe het in 2010 grond aan Bethal Polocrosse-klub geskenk omdat die klub nie ander grond kon kry nie nadat hulle doodgeloop het.

Hy onderhou die bane en me. De Jager en haar man oefen daagliks daarop.

Buiten polocrosse, oefen me. De Jager ook minstens drie keer ’n week in die gimnasium.

Sy het in Februarie vanjaar na Bethal teruggekeer na 10 jaar in Gauteng waar sy gestudeer en daarna as oudioloog gewerk het.

Me. De Jager het vanjaar haar eie praktyk op Bethal oopgemaak en gesê sy geniet die lewe op die platteland.

Polocrosse is hoofsaaklik ’n wintersport, hoewel me. De Jager en haar man dit ook in die somer beoefen.

Hulle ry korter ente met die perde in die somer en neem aan minder kompetisies deel.

Related Articles

Back to top button