Local sportSport

Sasol Digimag se eerste en tweede spanne wen die Protour-ligatrofeë

lbei die Sasol Digimag-spanne sal nou aan die Golden Cup deelneem.

SECUNDA – Sasol Digimag se eerste en tweede rugbyspanne het koning gekraai oor hul teenstanders in die eindstryd van hul onderskeie ligas wat Saterdag, 11 Augustus op Sasol se tuisveld gespeel is.

Die eerstes het vir Middelburg in ’n bitter stryd om die beker van die Protours Premiersliga verslaan.

Die eindtelling was 22-16 in Sasol se guns.

Dit was van die staanspoor af duidelik dat dié spanne wat mekaar eintlik goed ken, mekaar op die veld wou verbrysel.

Daar is hard gespeel en geraas en die spel is gekenmerk deur geweldige plettervatte, gereelde kraglope, verskeie hoogvatte, vurige humeure en twee geelkaarte.

Hoewel die skare luid vir hul spanne geskree en die teenstanders uitgejou het, was dit veral die skeidsregter wat die publiek se nommer een vyand was.

Hy is van alle kante af sleggesê, maar dit het geblyk dat hy hom geensins daaraan gesteur het nie.

Jannie van der Merwe (heelagter) druk Sasol Digimag-eerstes se eerste drie.

Sasol se heelagter, Jannie van der Merwe, se skopvoet het met ’n strafdoel die punte aan die rol gesit, wat Middelburg se losskakel, Gerhard Munro, dadelik beantwoord het.

Van der Merwe het Munro se punte getroef toe hy die bal vanuit ’n skrumgemaal ontvang het en ’n drie naby die pale gedruk het.

Hy het dié drie ook verdoel om die puntetelling op 10-3 te bring.

Ná ’n wipplank van etlike minute, het Munro weer met ’n strafdoel vir Middelburg punte aangeteken.

Verskeie pogings aan albei kante om vir ’n drie deur te druk, het in die eerste helfte ongeslaagd gebly.

Teen rustyd was die telling steeds 10-6 in Sasol se guns.

Lennie Vergottini het in die tweede helfte vir die eerste drie gesorg, wat deur Van der Merwe verdoel is.

Middelburg se heelagter, Rohan Stander, het daarna weer die gaping in die puntestand laat krimp met ’n drie wat verdoel is.

Die telling was toe 17-13 in Sasol se guns.

Sasol se skrumskakel, Dalton Smit, het die bal onderskep vanuit ’n lynstaan in Middelburg se gebied en daarmee deurgebreek vir ’n drie. Dié drie is nie verdoel nie.

Sasol is egter kort daarna vir ’n tweede keer met ’n geelkaart gestraf.

Middelburg het die kans benut om ’n strafdoel aan te teken wat die telbord op 22-16 te staan gebring het.

Witrivier se De Wet Boshoff probeer Givan Thabalala (Sasol se slot) plattrek in die tweede spanne se wedstryd.

Francois Jacobs, loskopstut, is aangewys as Sasol Digimag se voorspeler van die wedtryd en die losskakel, Fanie Booysen, is die agterspeler van die wedstryd.

Die Sasol Digimag se tweedespan het hul wedstryd teen Witrivier in die Protours Premier-reserweliga met 45-17 gewen. Sasol Digimag het al teen rustyd met 24-10 voorgeloop,

Hul puntemakers was Jacobus Byleveldt, Eddison Mphuthi, Righ Potgieter, Edmund SouleToby Molefe, Evan Wessels en Dirk Lowies.

Neels Els, loskopstut, is aangewys as die voorspeler van die wedstryd en Eddison Mphuthi, regtervleuel, as die agterspeler van die wedstryd.

Albei die Sasol Digimag-spanne sal nou aan die Golden Cup deelneem.

Volgens die tweede span se afrigter, mnr. William Pretorius, sal dié toernooi eers in Maart gehou word.

Willa Martin (kaptein) ontvang die Protours Premiersligatrofee van mnr. Arrie Myburg (Mpumalanga Rugby-unie se adjunkpresident).

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/121927/galery-sasol-digimag-se-spanne-kraai-koning-mpumalanga/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button