Brits-kinders op Secunda blink uit op sportveld
Boeties en sussie gaan na Suid-Afrikaanse klublandloopkampioenskap in September.
Vir die vier Brits-kinders, kom hardloop natuurlik.
Leonardo (8), Jason (9), Schalk (11) en hul sussie Meceila (13) het vanjaar Mpumalanga-kleure in klublandloop gekry en gaan op 8 September aan die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskap in Port Elizabeth deelneem.
Meceila het tydens die Mpumalanga-klublandloopkampioenskap gewen, Schalk was derde, Jason vierde en Leonardo agtste.
Dié kinders presteer nie net in landloop nie, maar ook in verskeie ander sportsoorte. Hulle is leerders van Laerskool Secunda.
Leonardo neem ook aan hokkie, rugby en atletiek deel.
Hy speel ook skaak en is deel van die landsdiens, en hokkie is sy gunsteling sport.
Sy ouer boetie, Jason, speel ook rugby, hokkie en krieket en neem aan atletiek deel.
Hy speel ook skaak en is ’n landsdiener. Rugby is sý gunsteling sport.
Schalk speel ook rugby, krieket en hokkie en neem aan atletiek deel, en speel ook skaak en is deel van die landsdiens.
Al drie seuns het gestoei, maar het opgehou omdat hulle tussen al hul aktiwiteite moes kies.
Schalk gaan vanjaar vir die eerste keer aan die uitdunne vir die Mpumalanga-krieketspan deelneem.
Meceila het al voorheen aan die Suid-Afrikaanse-klublandloopkampioenskap, asook die skolelandloopkampioenskap deelgeneem.
Hul ma, me. Cornelia Brits, laat hulle aan die klub- en skolelandloopkampioenskappe deelneem.
Meceila is ook vir die Mpumalanga-netbalspan, asook die Mpumalanga-hokkiespan gekies.
Sy het vir verskeie agtereenvolgende jare haar Mpumalanga-kleure in atletiek verwerf en toe sy 0/11 was, het sy die Suid-Afrikaanse klublandloopkampioenskap gewen.
Sy het onder die top vyf deelnemers geëindig toe sy 0/10 en 0/13 was.
Dié vier atlete se pa, mnr. Schalk Brits, rig hulle in landloop af en het gesê hy en sy vrou glo dit is goed vir die kinders om van kleins af aan soveel sport as moontlik deel te neem.
“Die reël in ons huis is, as hulle begin met ’n sport moet hulle die seisoen klaarmaak. Hulle kan nie in die middel van die seisoen sê hulle wil ophou nie,” het me. Brits gesê.
“Ons probeer om soveel as moontlik die kinders se wedstryde en byeenkomste by te woon en glo ondersteuning is belangrik.”
Meceila staan in atletiekkringe as die Zola Budd van Secunda bekend en wil eendag ’n professionele netbalspeler word.
As sy nie vir landloop oefen of op die skool se netbalbaan of hokkieveld is nie, oefen sy aksienetbal.
Meceila gaan volgende jaar hokkie los omdat sy te veel aktiwiteite het en wil dan eerder meer begin dans.
Me. Brits het gesê akademie is ook vir haar belangrik en dit word nie agterweë gelaat nie, al neem die kinders aan so baie sport deel.



