Armandus berei voor vir titelgeveg volgende jaar
Belangstellendes is welkom om by klub aan te sluit.
SECUNDA – Armandus van Rooyen, gekwalifiseerde skopboks- en Muay Thai-instrukteur, het onlangs ’n nuwe skopboksklub, die Mighty Warriors-klub, op Secunda oopgemaak.
Van Rooyen het skopboks begin beoefen toe hy 18 was en net klaar gemaak het met skool.
Hy het eers ’n klub op Vanderbijlpark oopgemaak voordat hy en sy vrou, me. Salomie van Rooyen, na Secunda verhuis het.
Die egpaar oefen steeds een keer ’n maand by die klub op Vanderbijlpark.
By die Mighty Warriors-klub fokus Van Rooyen nie net op skopboks en Muay Thai nie, maar ook op fiksheid, selfverdediging, kardiovaskulêre skopboksoefeninge, K1 (lae skoppe) en kontakskopboks.
Hy het al verskeie medaljes ingepalm as ’n skopbokser, maar sy voltydse beroep is as ketelmaker op Sasol se myne.
Van Rooyen bied twee keer weekliks klasse aan in die aande by sy klub en sy doelwit is om volgende jaar ’n titelgeveg te wen.
Sy vrou oefen gereeld saam met haar man en hul twee seuns, twee en vier jaar oud, oefen ook skopbokstegnieke saam met hul ouers.
Die Mighty Warriors-klub op Secunda is deel van die Warriors-groep wat klubs op verskeie dorpe het, soos Vanderbijlpark, Potchefstroom en Heidelberg.
Me. Van Rooyen is voltyds ma vir die egpaar se kinders en sy hanteer ook die admin van die klub.
Vir meer inligting, besoek die klub se webwerf by www.mightywarriors.co.za.




