Standerton Krieketklub breek Breyten Cheetahs se spoed
Die Cheetahs het hul naam gestand gedoen, ongelukkig vir die verkeerde redes, alles het teen 120km/h gebeur, so vinnig soos hul die kolfblad betree het, so vinnig is hul uitgeboul.
Standerton Krieketklub het die afgelope naweek met die span van die Breyten Cheetahs by die Piet van den Berg-Ovaal op Standerton, afgereken.
Werner Mouton, kaptein van die Standerton Krieketklub, het die loot gewen en besluit om te boul omdat die bewolkte weer en moontlikheid vir reën, vinnige en naatboulers sou bevoordeel.
Dit was duidelik die regte keuse.
Die Cheetahs het hul naam gestand gedoen, ongelukkig vir die verkeerde redes, alles het teen 120km/h gebeur, so vinnig soos hul die kolfblad betree het, so vinnig is hul uitgeboul.
Sphamandla Mabaso, openingskolwer vir die Cheetahs, het nie ’n been voor paaltjie- appèl (bvp), met die eerste aflewering van Mouton oorleef nie en is teruggestuur kleedkamers toe.
Slegs 27 minute hierna, is James Mabasa, die ander Cheetahs-openingskolwer, ook deur Mouton vir bvp betrap.
Die wedstryd het nog drie kolwers hul paaltjies, deur bvp-beslissings, sien verloor.
Die Cheetahs kon slegs 40 lopies van 101 balle in sowat twee en ’n half uur aanteken, voordat hul uitgeboender is.
Mouton was Standerton se beste en mees ekonomiese bouler, met vier paaltjies in vier beurte, met slegs drie lopies afgestaan.
Jacques Nel het ook vier paaltjies in vier beurte geneem, maar 16 lopies is teen hom aangeteken.
Standerton se openingskolwers, Estienne du Toit en PJ Venter is ingestuur om die skamele 40 lopies te jaag.
Na 11 minute, het Sphamandla Mabaso geslaag om Du Toit vir slegs twee lopies uit te boul, en Jacque Nel is daarna ingestuur om Venter by te staan.
Die Cheetahs kon nie die vennootskap van Nel en Venter opbreek nie, en Standerton het die knoop deurgehaak, deur 41 lopies binne slegs vier beurte aan te teken.
Venter het 24 lopies aangeteken en Nel ses, albei nie uit nie.
Die volgende wedstryd vind op Ermelo plaas wanneer Standerton die Ermelo Frogs aanvat.



