Sasol Rugbyklub vereer hul top spelers
HJ Neethling het ook die trofee gekry vir die speler met die meeste uithouvermoë
SECUNDA – Sasol Rugbyklub het hul beste spelers, bestuurslede en ondersteuners beloon tydens hul jaarlikse vergadering en prysuitdeling wat op 2 November in die koshuissaal van Highveld Park High School gehou is.
Die spelers was dit eens dat een van die heel belangrikste trofes, die Spelers se Speler van die Jaar, aan HJ Neethling oorhandig word. Hy het ook die trofee gekry vir die speler met die meeste uithouvermoë.
Die eerstespan het die toekenning vir die Span van die Jaar ontvang omdat hulle geen wedstryd in die seisoen verloor het nie.
André Schwab is vereer vir verdienstelikheid en onbaatsugtigheid en Michael van Vuuren het die toekenning ontvang vir sportmanskap.
Me. Mariëtte Kruger het die trofee as Bestuurslid van die Jaar onder applous ontvang. Sy is geloof vir haar toewyding aan die klub, selfs nádat sy met kanker gediagnoseer is.
Johan Bezuidenhout het die trofee ontvang vir Klubman van die Jaar omdat hy altyd die ekstra myl gestap het om te help.
Steyn van den Heever het ‘n toekenning van ‘n ander kaliber ontvang – as K@#maker van die Jaar.
Grapjas Jacobus Byleveldt is beloon met die Geesbeker en ook met die beker vir die beste sewesspeler vereer.
Bertie Visser is aangewys as die speler wat die meeste drieë in die seisoen gedruk het. Hy het 16 drieë agter die pale gaan plant waarvan 10 in die eerste twee wedstryde van die seisoen gebeur het.
Jannie van der Merwe het sy ingestelde skopvoet gesorg vir die meeste punte van die seisoen. Hy het 116 punte vir sy span aangeteken.
Die spelers van die eerstespan wat toekennings ontvang het, is Lenny Vergottini as beste verdediger, Willa Martin as voorspeler, Fanie Booyse as agterspeler, Dalton Smith as mees aanvallende speler, Theuns Kruger as veelsydigste speler en Calvin Clack en Wian Prinsloo as die nuwelinge van die jaar.
Die spelers van die tweedespan wat trofes ontvang het, is Tiaan Habig as beste verdediger en voorspeler, Eddie Mphuthi as agterspeler en Steyn van den Heever as Speler van die Jaar.
Anver January is as die derdespan se Speler van die Jaar aangewys.
Die ander derdespanspelers wat pryse ontvang het, is Dumi Mashaba as verdediger, Johan Bezuidenhout as voorspeler en JC Schambriel as agterspeler.




