SECUNDA – Sasol 1 krieketspan het Saterdag, 19 Januarie op hul tuisveld met Ermelo kragte gemeet en hulle met vyf paaltjies geklop.
Dit plaas Sasol 1 nou tweede op die ranglys.
Sasol 1 het die loot gewen en besluit om eerste te kolf en het Ermelo uitgeboul vir 108 lopies.
George Louw van Sasol 1 het drie paaltjies vir 21 lopies in ses boulbeurte geneem en Gerald Ngwenyama het twee paaltjies vir slegs nege lopies afgestaan in agt boulbeurte met vyf skoon boulbeurte.
Ignus Koekemoer en Colin van Staden van Sasol 1 het elk twee paaltjies geneem en Dodds van Zyl het een paaltjie geneem.
Sasol het die lopies in 17.3 boulbeurte behaal en Van Staden het 55 lopies in 42 balle, nie uit nie, aangeteken.
Sasol 2 het Sondag, 20 Januarie, ook op hul tuisveld met Piet Retief, wat tans bo-aan die ranglys is, kragte gemeet en verloor.
Piet Retief is eerste ingestuur om te kolf en het 234/8 lopies aangeteken in 45 boulbeurte.
Sasol 2 kon slegs 133 lopies aanteken en het verloor met 101 lopies.
Die Promosie-liga se T20-wedstryde het ook die afgelope naweek op Secunda plaasgevind en Sasol Kinross het eMba 2 geklop en daarna teen die Bethal Old Boys verloor.
Die Sasol Griffons het eMba 2 ook geklop, terwyl Sasol Akademie in die stof gebyt het teen eMba 2.
Sasol 1 speel die eerskomende naweek teen Piet Retief op Dumbe terwyl Sasol 2 teen eMba op eMbalenhle gaan speel en die promosie-liga-spelers speel tuis.



