Rudolf bereik nuwe hoogtes op sy motorfiets
Plaaslike motorfietsryer wil span van Europa na Secunda bring
SECUNDA – Plaaslike FMX (freestyle motorcross)-motorfietsryer, Rudolf Pretorius, het Saterdag, 2 Februarie aan die ‘King of the Whip’-motorfietskompetisie in Johannesburg deelgeneem.
Net die beste FMX-motorfietsryers word gekies om aan die kompetisie deel te neem.
Pretorius het die FRLSS (Fearless)-span verteenwoordig.
“Dit was vir my ‘n groot eer om gekies te word om aan dié kompetisie deel te neem,” het Pretorius gesê.
Hy het deelgeneem aan die Beste Toertjie-afdeling asook die ‘Best Whip’-afdeling.
Pretorius het met sy motorfiets sowat 23m die lug in gespring en verskeie toertjies uitgevoer terwyl die motorfiets steeds in die lug is.

Sowat 5 000 toeskouers het Saterdag aanskou hoe Pretorius en ander FMX-motorfietsryers op die grootste stellasie in Afrika toertjies op hul motorfietse uitgevoer het.
Op die ouderdom van 17 het die motorfiets-gogga vir Pretorius gebyt en sedert hy dié sport begin beoefen het, moes hy al verskeie operasies aan sy knieë en enkels ondergaan.
Dit keer hom egter nie om weer op sy FMX-motorfiets te klim nie.
Hy het verlede jaar vir die eerste keer ‘n bollemakiesie agterstevoor probeer en dit met die sewende probeerslag reggekry.
Die avontuurlustige Pretorius beoefen ook graag watersport en gemengde gevegskuns.

Die ‘King of the Whip’ was die eerste kompetisie waaraan hy deelgeneem het sedert ‘n knie-operasie in Maart.
“Dit was eintlik bietjie vinnig op my.
Ek wou graag meer wou oefen, maar ek het deurgedruk en dit gedoen,” het hy vertel.
Sy volgende doelwit is om hopelik vanjaar nog die FMX-motorfietsspan, ‘Rock to Flip’, vanaf Europa na Secunda te bring.

Dié groep doen toertjies op hul motorfietse met kitare in die hand terwyl hulle in die lug is.
Pretorius wil graag, na dié span in Secunda was, in Italië gaan kuier en daar aan vertonings en kompetisies deelneem.
Hy het sy borge Lake Umuzi vir die FMX-geriewe, GMAS Steel Supplies, Consoil Material Testing Laboratory en FRLESS Clothing, bedank.




