Local sportSport

Sasol DigiMag Rugbyklub se eerste tuiswedstryde tref in die kol

Ten spyte van heelwat foute wat veroorsaak het dat die tuis-spanne hopeloos te veel punte aan die Raiders afgestaan het, het aldrie spanne steeds Saterdag, 23 Februarie, die Gautengers in ’n vriendskaplike byeenkoms geklop.

SECUNDA – Sasol DigiMag Rugbyklub se drie spanne het reeds met hul eerste tuisvertoning gewys wie is baas van die Secunda-plaas.

Ten spyte van heelwat foute wat veroorsaak het dat die tuisspanne hopeloos te veel punte aan die Raiders afgestaan het, het aldrie spanne steeds Saterdag, 23 Februarie, die Gautengers in ‘n vriendskaplike byeenkoms geklop.

Van die staanspoor af het die eerste spanne geensins gelyk of hulle wel vriendelik met mekaar wou wees nie.

Sasol DigiMag se manne het heelwat tyd in die Raiders se doelgebied bestee in ‘n poging om deur die besoekers se verdediging te breek, met verskeie kraglope uit die Raiders se kamp.

Dit was ‘n kwessie van beur vorentoe, gee die bal uit, rol om en beur vorentoe, maar helaas was daar na 20 minute nog geen punte op die telbord nie.

Skielik het Sasol se linkervleuel, Bertie Visser, sy opening gesien, die bal opgeraap, deur die grypende hande van die Raiders geglip en op die doellyn afgepyl waar hy uiteindelik die eerste punte vir sy span aangeteken het.

Losskakel Fanie Booysen het die drie verdoel en die puntestand tot 7-0 gebring.

Visser het kort hierna die bal van agsteman Calvin Clack ontvang en weer oorgeduik vir nog ‘n drie. Dit is nie verdoel nie.

Die Sasol DigiMag-span het gou weer op die Raiders toegeslaan met ‘n drie gedruk deur hul flank Ruan van der Colff.

Booysen het die drie verdoel en die telbord na 19-0 opgeskuif.

Die Raiders was teen hierdie tyd moeg om die spit af te byt en het sterk op hul skrums gefokus.

Dit was juis vanuit een van dié skrums dat die Raiders se Dylan Malgas, loskopstut, die bal ontvang het en sy span se eerste drie gaan druk het.

Die Raiders se losskakel, John Kubeka, het die drie verdoel wat die telling op 19-7 te staan gebring het.

Willa Martins, Sasol DigiMag se veteraanslot, het ook ‘n beurt gekry om punte aan te teken toe Van der Colff die pad oopgedruk het voor hy die bal aan Martins gegee het vir ‘n drie wat deur Booysen verdoel is.

Die Raiders is egter ‘n verdoelde strafdrie toegeken omdat een van Sasol se manne ‘n besoeker gepootjie het.

Die telling het toe op 26-14 gestaan, maar het gou weer gestyg toe die Raiders se agsteman, Jake Amod, ‘n drie gedruk het. Die drie is nie verdoel nie.

Teen rustyd was die telling 26-19 in Sasol se guns.

Jannie van der Merwe sweef deur die lug om ’n drie vir Sasol DigiMag se tweedespan te druk.

Die tweede helfte het skaars begin of Sasol DigiMag het ‘n kans vir ‘n strafdoel gekry. Dié gewaagde strafdoel het van die halflyn af net te kort getref en die pale net-net nie gemaak nie.

Ithu Mpete, die Raiders se spoedvraat-flank, het bykans driekwart van die veld in volle vaart afgelê om nog punte vir sy span aan te teken.

Kubeka het die drie verdoel en skielik was die spanne gelykop met 26 punte elk.

Kort voor lank het Visser (Sasol se linkervleuel) weer onder die pale gaan kuier met nog ‘n drie, maar dit is nie verdoel nie.

Ná Sasol se skrumskakel seergekry het, is die Raiders gestraf en Sasol DigiMag is die kans gegun om ‘n strafdoel oor te skop en die telling op te bring na 31-26 in Sasol DigiMag se guns.

Met slegs sowat 10 minute oor in die wedstryd, het die Raiders se Mpete weer toegeslaan met ‘n spoedlopie na die hoekie van Sasol se doellyn.

Die drie is nie verdoel nie en die puntetelling was toe 34-31.

Jannie van der Merwe wat in die tweedespan se wedstryd geskitter het, het in die tweede helfte vir die eerstes uitgedraf as plaasvervanger.

Hy het in die laaste vyf minute van die wedstryd ‘n drie vir Sasol DigiMag gedruk wat die wentelling op 39-31 te staan gebring het.

Willa Martin is as die voorspeler van die wedstryd beloon en Bertie Visser het ‘n welverdiende erkenning as agterspeler van die wedstryd ontvang.

Sasol DigiMag se tweedespan het hul wedstryd met 35-33 gewen.

Jandré Mathee, vaskopstut, is as voorspeler van die wedstryd aangewys en skrumskakel Rudolf Pretorius is as die beste agterspeler vereer.

Die derdespan het met 45-12 gewen.

Sasol DigiMag se flank, Bertie Visser, ontglip die hande van ’n Raiders-speler. Hy is as die agterspeler van die wedstryd beloon.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button