Hoërskool Florida troef SHS se eerstespan 42-17
SHS het verbete 'n terugvegpoging aanmekaargevleg om die telling te probeer beperk, maar Florida was gereed met hul eie goedbeplande aanval om die telbord te laat oorrol.
Standerton is die afgelope naweek, 3 Maart, deur ‘n besoekende span, Hoërskool Florida getroef.
Albei spanne het in die eerste helfte hul vaardighede ten toon gestel met goedsaamgestelde lopies en uitstekende verdediging.
Die eerstehelfte is gekenmerk daaraan dat geen span bes wou gee nie.
Die wending het egter vir Florida gekom, hoewel Standerton sonder aarseling geantwoord het.
Beide spanne het agter die pale gaan kuier, maar dit was Standerton wat geslaag het om hul drie te verdoel om rustyd met 7-5 te kon voorloop.
Standerton het egter in die tweedehelfte hul voorsprong verloor toe die Florida-manne losgetrek en gapings in die tuisspan se verdediging ontbloot het.
Dié aanslag het Standerton nie verwag nie en Florida was gereed om daarop te kapitaliseer.
SHS het verbete ‘n terugvegpoging aanmekaargevleg om die telling te probeer beperk, maar Florida was gereed met hul eie goedbeplande aanval om die telbord te laat oorrol.
Net voor die eindfluitjie het Florida weer agter die pale baljaar om eindelik die span van Standerton 42-17 te tem.



