Sasol DigiMag draf Saterdag op hul tuisveld in Secunda uit
Dit is uitklopwedstryd in die B-poel van die nasionale toernooi wat sal beslis of Sasol DigiMag verder in die toernooi sal kan speel.

SECUNDA – Die Sasol DigiMag Rugbyklub meet hierdie naweek kragte teen die College Rovers op Secunda, en vra dat die gemeenskap hulle sal ondersteun.
Me. Mariëtte Kruger, spanbestuurder, het Maandag vertel dat dié wedstryd ‘n uiters belangrike wedstryd in die Gold Cup-toernooi vir die Secunda-manne is.
Dit is ‘n uitklopwedstryd in die B-poel van die nasionale toernooi wat sal beslis of Sasol DigiMag verder in die toernooi sal kan speel.
Dié Gold Cup-span van Sasol DigiMag het hul eerste wedstryd in die toernooi op 9 Maart gewen, maar het egter hul tweede wedstryd teen East Rand United van Boksburg verloor.
Die spanne het op Saterdag, 16 Maart in Reigerpark kragte gemeet.
Hoewel Sasol DigiMag teen halftyd met 10-8 voorgeloop het, het die Gautengers die bordjies uiteindelik verhang en was die eindtelling 34-22 in East Rand United se guns.
Die tweede- en derdespanne het ook in vriendskaplike wedstryde teen East Rand United verloor.
Die wedstryd wat Saterdag, 23 Maart, teen die College Rovers plaasvind, begin om 4nm op die hoof-rugbyveld van die Sasolklub in Secunda.
Sasol DigiMag fokus daarop om hierdie wedstryd te wen sodat hulle na die kwarteindstryd kan deurdring.



