Local sportSport

12-jarige van Secunda is die 0/19-kampioen in langafstandskiet

Liza het nie net die Suid-Afrikaanse 0/19-afdeling gewen nie, maar sy het ook algeheel 46ste op die Suid-Afrikaanse kampioenskap gekom. Sy het op afstande van 300m tot 900m geskiet

KINROSS – Liza Roux is skaars langer as haar .308-geweer, maar het al hardebaard-manne in die stof laat byt met haar vermoë as skut.

Dié graad 7-leerder van Laerskool Kruinpark het onlangs die junior 0/19-afdeling se F-TR-klas van die Suid-Afrikaanse Langafstandkampioenskap (Bisley) gewen.

Dié kompetisie het van 6 tot 13 April in Bloemfontein plaasgevind.

Die 12-jarige Liza Roux moes hierdie teiken op ’n afstand van 900m skiet.

Haar pa, Tielman Roux, het ook aan die kampioenskap in die TR-klas deelgeneem.

Roux boer op die plaas Schaapkraal buite Kinross en is ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging.

Hy het drie jaar gelede sy dogter b na die plaaslike Houtkappertak se byeenkomste egin saamneem.

Liza het in die begin met ‘n windbuks en .22-geweer aan die junior-kompetisies deelgeneem.

Sy het in 2017 vir die eerste keer aan ‘n nasionale byeenkoms wat in Welkom deur die SAJV aangebied is, deelgeneem en het redelike prestasies behaal.

Sy het egter verlede jaar in Oktober die goue medalje ingepalm en die veergeweer-afdeling gewen.

“Veergeweer is een van die moeilikse vuurwapens om sekuur mee te skiet,” het Roux verduidelik.

Dié prestasie het vir Roux laat besef dat sy dogter tot groter dinge in staat is en hy het haar aangemoedig om met groter kaliber-wapens, soos ‘n .223 en .308 te oefen.

Die skuts moet elkeen self die windmeting doen.

Dit was ook nie lank nie of Liza was die voorloper in die Jakkalsskietoefening. Sy het die teiken op 300m ‘n kolhou gegee. Sy loop tans in hierdie ope-klasliga voor.

Roux het Liza se potensiaal om in langafstandskiet te presteer, raakgesien en het haar na die Bisley-unie geneem waarin hyself ook ‘n deelnemer is.

Die naaste Bisley-klub is in Middelburg en die skuts ding in die Noord-Gauteng-liga mee.

Liza het ernstig begin oefen vir haar eerste langafstand-skietkompetisie en selfs haar ma, Louisa, se afsterwe op 26 Januarie het nie gekeer dat sy steeds op 30 Januarie aan die Mpumalanga Ope-kampioenskap deelgeneem het nie.

Dit was op hierdie byeenkoms waar ‘n Springbok-skut haar opgemerk en daarop aangedring het dat sy aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap deelneem.

Die keurder is juis op reis om ‘n juniorspan saam te stel wat oor twee jaar aan die Wêreldkampioenskap wat in Suid-Afrika plaasvind, kan deelneem.

Liza het nie net die Suid-Afrikaanse 0/19-afdeling gewen nie, maar sy het ook algeheel 46ste op die Suid-Afrikaanse Kampioenskap gekom.

Sy het op afstande van 300m tot 900m geskiet. Volgens Roux het hulle sowat 500 koeëls (rondtes) elk op dié kampioenskap uitgeskiet.

“Dit kos ‘n klein fortuin en as dit nie vir ons borge was nie, sou ons werklik nie aan hierdie byeenkoms kon deelneem nie.”

Liza wil graag volgende jaar aan Hoërskool Hoogenhout skoolgaan en deel van hul skietspan word.

Sy het aan Ridge Times verklap dat sy eendag ‘n verdowingspesialis wil word wat diere vanuit ‘n helikopter verdoof.

“Of anders wil ek ‘n fotograaf word.

“As ek op my skietmat lê, dan voel dit vir my soos ‘n droom waarin ek vlieg.”

Liza Roux (12) het in April die Suid-Afrikaanse langafstandskietkampioenskap se 0/19 junior-afdeling gewen.
Gunter Withaus (die kaptein van die 0/19-span) help vir Liza Roux op die skietmat. Liza Roux (12) het in April die Suid-Afrikaanse langafstandskietkampioenskap se 0/19 junior-afdeling gewen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button