Sasol DigiMag klop Middelburg se spanne ver
Die Busse (Sasol DigiMag se eerstes) het Middelburg met 69-8 geklop
Die Sasol DigiMag Rugbyklub se spanne het Saterdag, 11 Mei, die eerste- en tweedespanne van Middelburg Rugbyklub ore aangesit en goeie oorwinnings behaal.
Die Busse (Sasol DigiMag se eerstes) het Middelburg met 69-8 geklop.
Die bal het nog skaars grond gevat ná die afskop, toe het Sasol DigiMag se linkervleuel, Anwar Fillis, sy hande op die bal gekry en ‘n drie in die hoekie gaan druk.
Heelagter Marinus van der Merwe het die drie verdoel.
Na vele aanslane en hanteringsfoute, is Sasol DigiMag gestraf en het Middelburg se losskakel, Danie Malan, met ‘n strafdoel hul eerste punte op die telbord geplaas.

‘n Paar minute later het Johan Streicher, buitesenter, vanuit die losgemaal op Middelburg se doellyn losgebreek en ‘n drie agter die pale vir Sasol DigiMag gaan plant.
Van der Merwe het dié drie gemaklik verdoel. Die puntestand was toe 14-3 in Sasol DigiMag se guns.
Die opwinding van hierdie drie was skaars koud of Sasol DigiMag se losskakel, Fanie Booysen, het die bal van skrumskakel Steyn van der Heever ontvang en in die hoekie gaan druk. Dié drie is nie verdoel nie.
Vanaf hierdie punt in die wedstryd, was dit asof Sasol DigiMag bloed geruik het en soos leeus hul tuisveld verdedig het.
Die volgende drie is deur agsteman Calvin Clack gedruk en deur Van der Merwe verdoel.
Kort voor die rustydfluitjie, het Sasol se toekantflank, Potties Potgieter, die bal voor Middelburg se neuse opgeraap en ‘n drie gedruk wat deur Van der Merwe verdoel is.

Die rustydtelling was 33-3 in Sasol DigiMag se guns.
Die Busse het hul segetog voortgesit in die tweede helfte met ‘n vinnige drie deur vasskopstut Mike van Vuuren.
Dit is nie verdoel nie. Die blitsige Fillis (linkervleuel) het hierna weer ‘n drie vir sy span ingeryg wat deur Van der Merwe verdoel is.
Dit het die telbord na 45-3 opgestoot.
Plaasvervanger Dalton Smit het die kans gevat om die bal in Middelburg se kwartgebied te onderskep en het met ‘n oorrol die drie in die verste hoekie gaan druk. Dit is verdoel.
Middelburg het toe eers daarin geslaag om hul enigste drie vir die wedstryd aan te teken. Dit is deur heelagter Dominique Trollip gedruk, maar is nie verdoel nie.
Die telling het toe op 52-8 gestaan.

Met 17 minute oor, het Fillis weer ‘n draai agter die doellyn gemaak. Die doelskop het nie geslaag nie en die telling was toe 57-8.
Voor die eindfluitjie geblaas is, het Sasol DigiMag se Mark Jacobs en Eddi Mphuti ook vir drieë oorgeduik. Slegs een hiervan is verdoel wat die eindtelling op 69-8 te staan gebring het.
Fillis is as die agterspeler van die wedstryd aangewys en kaptein Sweis Jacobs as die voorspeler van die wedstryd.
Die Sasol DigiMag se tweedespan het Middelburg met 71-23 geklop.
Die puntemakers was Ruben Lello, Jacobus Byleveldt, Fanna Motloung met drie drieë, Thando Tshabalala met twee drieë, Given Tshabalala, Carel-Pieter de Jager, Ruan Neethling en Dirk Coetzee.
Rudolf Pretorius het vyf drieë verdoel en Dirk Coetzer drie.
Tobie Molefe is as die voorspeler en Juan Schambreel as agterspeler van die wedstryd vereer.
Middelburg het nie ‘n derdespan saamgebring nie.




