Local sportSport

Sasol DigiMag is weer ligakonings

Die Sasol DigiMag-span het die seisoen ingegaan met reeds ’n paar wedstryde in die Gold Cup-reeks agter die blad.

SECUNDA – Sasol DigiMag Rugbyklub se eerstespan kraai vir die vierde agtereenvolgende jaar koning in die Mpumalanga Phakisa Premiersliga.

Die span het op Saterdag, 3 Augustus hierdie welslae in die Mbombela-stadion teen die span van Witrivier behaal.

Sasol DigiMag was teen halftyd met 3-13 nog ver agter, maar het met mening teruggekap en die liga se eindstryd met 22-20 gewen.

Die span se nuwe afrigter, mnr. Lodewyk Uys, skryf hul oorwinning aan die spelers se goeie gesindheid en samehorigheid toe.

Mnr. Uys, ‘n oud-provinsiale speler, is sedert die begin van die seisoen by die klub betrokke, maar het eers onlangs na Secunda verhuis.

“Die ouens speel absoluut vir mekaar. Hulle is op en van die veld vriende wat weet wat in mekaar se lewens gebeur.

“Hulle is soos een groot familie. Dit is ‘n rare ding en ek glo dis deel van dié span se wenresep,” het mnr. Uys verduidelik.

Die klub se dissipline is ook baie goed.

Die Sasol DigiMag-span het die seisoen ingegaan met reeds ‘n paar wedstryde in die Gold Cup-reeks agter die blad.

Volgens mnr. Uys het die Gold Cup die span lekker uitgedaag om diep te delg.

“Dit het ons seergemaak. Ons het agterna met 17 beserings gesit, maar gelukkig het daar talle manne hul hande opgesteek en gewys hulle wil hier speel.”

Dié beserings het egter in ‘n goeie tyd van die seisoen gebeur en kon die manne herstel terwyl die ander ervare spelers die pot as’t ware aan die kook gehou het.

Met tye was daar wel gewonder of Sasol weer die liga-eindstryd sou haal omdat hulle van hul wedstryde verloor het.

“Die keerpunt het in die middel van die seisoen gekom toe ons teen Middelburg uitgedraf het. Dit was ‘n tight game.

“Ons het met ‘n sterk bench na die eindstryd gegaan en het ons vars spelers later op die veld gestuur.”

Mnr. Uys het verduidelik dat die punte eintlik eers vir Sasol vanaf die 50ste minuut van die wedstryd begin inrol het.

Sasol DigiMag se heelagter en skopvoet, Marinus van der Merwe, het vir 17 van Sasol DigiMag se 22 punte gesorg.

“Hy het beslis ook op heelagter uitgestaan en het leiding geneem om die verdediging te versterk. Die voorspelers het veral in die lynstane en skrums gedomineer,” het mnr. Uys vertel.

Hy en die klubkomitee is reeds aan die beplan vir die volgende seisoen waar hy ook hoop om die gemeenskap meer by die klub betrokke te kry.

Die Sasol DigiMag-span vier hul oorwinning. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat dié klub die Mpumalanga Phakisa Premiersliga gewen het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button