KINROSS – Me. Julie-Ann Maudlin (27) het begin dans toe sy agt jaar oud was.
Terwyl sy nog op hoërskool was het sy deeltyds gehelp om dansklasse aan te bied.
Sy het op Evander grootgeword en in 2011 ’n dansskool op Leandra oopgemaak en later ook op Kinross.
Me. Maudlin het ná skool op Secunda as adminvrou en later as aktetikster gewerk voordat sy in 2015 na Johannesburg verhuis het.

Sy ry weekliks na Leandra en Kinross om dansklasse aan te bied.
Me. Maudlin het gekwalifiseer in verskeie dansrigtings wat ballet insluit asook haar dansonderwysers-eksamen.
Sy werk tans voltyds as ’n veiligheidsbeampte en naweke hou haar dansskole haar besig.
Sy bied ook weekliks dansklasse by haar dansskool op Boksburg aan.
“Ons neem bykans elke naweek aan ’n kompetisie deel,” het me. Maudlin gesê.

As sy nie self dans in die kompetisies of haar studente ondersteun nie, bied sy oor naweke danskampe aan sodat haar studente kan oefen en hul vaardighede kan verbeter.
Me. Maudlin se dansers het al pryse ingeryg by verskeie kompetisies wat die Amerikaanse danstoekennings, Grand Prix-kompetisie, die Dansmeesterskompetisie, die Suid-Afrikaanse Danskampioenskap ne die JSD-jaarlikse danskompetisie insluit.
Haar dansers is ook al gekies om in New York deel en Italië te neem, maar dit sou sowat R50 000 per danser kos en me. Maudlin moes dus die geleentheid laat verbygaan.
Die meeste van haar dansers het verlede jaar hul Mpumalanga en Suid-Afrikaanse kleure verwerf.
Sy het twee seuns wat onderskeidelik twee en ses jaar oud is en ’n dogtertjie sal in Februarie haar opwagting maak.
Sy is opgewonde oor die vyfde lid van hul familie se koms.




