Local sportSport

Rugby is in Lodewyk Uys se gene

“Ek sien uit na die nuwe seisoen. Ek wil graag sien dat die gemeenskap weer wedstryde bywoon en meer betrokke moet wees. ”

SECUNDA – Rugby vloei deur sy are.

Met ‘n oupa soos prof. PA Pelser, die ontslape rugbylegende wat op sy dag die Goue Leeus en in Italië afgerig het, is dit geen verrassing dat mnr. Lodewyk Uys (28) ook op en van die rugbyveld uitblink nie.

Mnr. Uys is die nuwe hoofafrigter van die Sasol DigiMag Rugbyklub.

Dié voormalige professionele rugbyspeler het boonop ‘n kop vir besigheid met ‘n graad in ekonomie en internasionale handel.

Hy het onlangs na Secunda verhuis en is nou die bestuurder van DigiMag.

Hy het in Johannesburg grootgeword en het aan die Hoërskool Linden matriek geskryf en is toe na die Universiteit van die Noordwes om te studeer.

“Ek was maar van kleins af ‘n entrepreneur. My pa het vir Clover gewerk en ek het destyds Dirkies goedkoop gekry wat ek dan teen ‘n goeie wins op ons skool se markdae verkoop het.

“Ek was nege jaar oud toe ek vir die hoof-uitvoerende beampte van Clover ‘n epos gestuur het met die voorstel om Dirkie oor te neem.

“Ek het egter nooit iets van hulle teruggehoor nie,” het mnr. Uys laggend vertel.

Hy is die jongste van vier kinders en hoewel sy broers en suster ook sportief was, het mnr. Uys in rugby uitgestyg.

As tiener het hy op heelagter uitgedraf, maar later jare het hy slot gespeel.

Dit is eintlik ná skool toe sy rugby-talente verder gevorder het.

Hy het op provinsiale vlak vir die Luiperds, die Boland en die SWD gespeel, en het ook vir ‘n wyle die Universiteit van Johannesburg verteenwoordig.

Tussendeur het hy studeer en later ook as finansiële raadgewer gewerk.

“Ek het die Here in die Boland ontmoet en my lewe het ‘n ommeswaai ondergaan.”

Ná ‘n droogte-seisoen in sy rugbyloopbaan, het mnr. Uys die Here vertel hoe graag hy weer op die rugbyveld sou wou uitdraf.

“Ek het skaars van ‘n touch- rugbydag by die kerk af tuis gekom, toe my agent vir my laat weet het ‘n klub in Frankryk bied vir my ‘n kontrak aan.”

Hy en sy Lizette het pas die knoop deurgehaak en hulle moes na die dorp Saint Savin verhuis waar mnr. Uys vir bykans ‘n jaar klubrugby gespeel het.

“Ons het op die broodlyn geleef, maar het Europa verken.

“Dit was ‘n avontuur, maar ons het altyd geweet dit was net tydelik.

“Ek het so terloops vir my agent gevra of daar tog nie iewers ‘n slot in Suid-Afrika benodig word nie.

“Toe antwoord hy dat SWD dringend ‘n speler benodig en só het ons in George beland.”

Mnr. Uys het vir bykans drie seisoene vir SWD uitgedraf.

Die derde seisoen, en sy rugbyloopbaan, is egter weens ‘n rugbesering kortgeknip.

Een van sy rugwerwels het ‘n fraktuur gehad en ander se kussings het uitgedruk.

Dié beserings was glo weens hoogspring en verspring wat hy as skoolkind gedoen het en rugby het dit vererger.

Mnr. Uys is vroeg vanjaar geopereer en van sy werwels is aan mekaar geheg en twee nuwe kussinkies ingesit.

“Ek is regtig nou langer – voor die operasie was ek 1,96m lank en nou is ek 1,98m lank.”

Die Uys-egpaar het reeds goed by Secunda se gemeenskap ingeskakel en hoop hul spruite, Pieter-Daniel (2) en Andeline (een maand), gaan hier gelukkig groot word.

“Ek en Werner Joubert het mekaar leer ken nog voor ek Frankryk toe is.

“Ek was al verlede seisoen so ‘n bietjie by die afrigting van die Sasol DigiMag se Rugbyklub betrokke.

“Ek sien uit na die nuwe seisoen.

“Ek wil graag sien dat die gemeenskap weer wedstryde bywoon en meer betrokke moet wees. Dit sal goed wees om meer samewerking tussen klubs te sien. Ons het ‘n vyf jaar-plan waarin ek die klub wil sien groei en floreer,” het hy gesê.

Die Uys-gesin is mnr. Lodewyk Uys wat vir Pieter-Daniel vashou en me. Lizette Uys wat vir Andeline vashou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button