Amateurgholfspeler beplan ’n professionele loopbaan
Alex is op Sondag 3 November as Graceland se ope-kampioen aangewys nadat hy 69 spelers hou-vir-hou met ’n gross van 142 geklop het.
Alex Pieterse het laerskooldae se skrumskakeltjie speel op ’n vroeë ouderdom, by benadering 12, vir gholf verruil en sy pogings is met sukses bekroon.
Alex is op Sondag 3 November as Graceland se ope-kampioen aangewys nadat hy 69 spelers hou-vir-hou met ’n gross van 142 geklop het.
“Die wind het bietjie gewaai wat die hitte hokgelaan het,” het Alex gesê.
Hy speel interprovinsiale gholf en veral die Oubaai Gholfklub op die Tuinroete pas hom soos ’n handskoen.
Die Pieterses het twee jaar gelede vanuit Volksrust na Standerton verhuis nadat sy pa ’n kontrak by Tutuka Kragstasie aanvaar het, hoewel Alex slegs drie maande gelede by die Standerton Buiteklub aangesluit het.

Met ’n voorgee wat skrik vir niks, beplan Alex om sy amateurstatus na professioneel in die nabye toekoms te verander en ’n gewone dag volg die patroon van oefen en nogmaals oefen.
Benewens gimnasiumwerk, is daar die baan waar balle wag om geslaan te word.
Hy was maar drie-jaar-oud toe hy saam met sy pa op die gholfbaan op eMalahleni (Witbank) begin loop het en later het mentors soos Gavin Levinson van Glendower Gholfklub ’n rol in die slyping van sy vaardighede gespeel.
Alex se meisie, me. Rentia Scholtz, is ’n toeskouer by meeste toernooie waar hy meeding.
Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en Noord-Ierland se Rory Mcilroy is as gunstelinge uitgesonder as daar gholf op televisie gekyk en name genoem moet word.
Hy was deel van die Standerton-span wat in die grossliga se halfeindstryd teen Tweefontein op Kriel die afgelope naweek meegeding het en sy posisie?
Wat anders as nommer 1 en die moontlikheid eendag van ’n groen baadjie en vonkelwynprop wat die lug inskiet?




