Melissan Rauch se voete jeuk om te dans
Melissan dans reeds van die ouderdom van ses. Haar droom is bewaarheid toe sy haar eie dansskool begin het.
BETHAL – Me. Melissan Rauch se voete het reeds op die ouderdom van ses begin jeuk om te dans.
Haar ma het haar danslesse laat neem, en sy het dadelik op die dansvloer tuis gevoel.
“Ek was verlief op dans en wou net nooit ophou nie. Ek was nog altyd lief daarvoor om te dans. Dit is my passie.
“Ek het ook my kwalifisasie as dansinstrukteur behaal omdat dit nog altyd my droom was om my eie dansskool te hê,” het sy gesê.
Sy het na Bethal verhuis en gesien dat veral kinders ‘n behoefte het om danslesse te neem.
Twee jaar gelede het sy haar eie dansskool op dié dorp begin.
Haar leuse vir haar dansskool is: ‘Dream with your feet.’
“Almal het my van die begin af ondersteun en motiveer om met dié nuwe projek deur te druk.
Nou is dit al twee jaar later en die kinders geniet dit al hoe meer.”
Vanjaar is die eerste jaar dat haar dansers as ‘n groep en individueel aan ‘n baie groot kompetisie deelgeneem het.
MR Dance Studio se dansers het al die pad Pretoria toe aangepak om aan die American Dance Awards deel te neem.
Dié jong dansertjies het het in groep- en solo-verband deelgeneem.
Almal wat deelgeneem het, is vir die Suid-Afrikaanse span gekies wat volgende jaar in Orlando sal deelneem.
“Dit is lekker om die eindproduk van wat ons bymekaar gesit het, te sien. Dit is harde werk en die ondervinding om aan die American Dance Awards deel te neem, het elkeen van die dansers goed gedoen. Die droom is nou om die groep in Orlando te kry.”
Me. Rauch skryf grootliks die sukses van haar dansskool aan haar ma toe.
Haar ma het haar onophoudelik gemotiveer en gedruk om haar droom te bewaarheid.
Me. Tilana Matthee was destyds me.Rauch se dansonderwyseres en sy kyk steeds op na haar.
“Ek het soveel mense waarvoor ek dankbaar is. Ek het met die idee van die skool na my kêrel, Johan van Tonder, gegaan en hy het my van die begin af ondersteun en raad gegee. Ek is dankbaar vir my dans-juffrou wat my alles geleer het, my ma vir haar liefde en ondersteuning, my eie familie en my skoonfamilie.”



